Dit volg nadat hy Saterdagoggend 4 Februarie in ’n kritieke toestand met asemhalingsprobleme in die Life Fourways-hospitaal opgeneem is.

Joost het oor die naweek in die waakeenheid suurstof met ’n ventilator deur ’n pyp in sy mond gekry. Maar hy is Maandagmiddag by sy huis oorlede.

Joost, wat in 1995 as kragtige jong skrumskakel in rugby se Wêreldbekertoernooi die All Black-reus Jonah Lomu met plettervatte in sy spore gestuit het, is op 3 Mei 2011 in die fleur van sy lewe as 40-jarige met die diagnose van MNS geruk.

Dit sou Julie daardie jaar deur die Amerikaanse motorneuronsiektespesialis dr. Erik Pioro van Cleveland, Ohio, amptelik bevestig word. Maar die grootste skok sou nog kom: Die prognose was dat hy waarskynlik net 24 maande oor het om te leef en op die meeste vyf jaar – as hy gelukkig is.

Tog het Joost in sy waardige stryd alle verwagtinge oortref en tot die einde baklei om so lank as moontlik sy kinders, Jordan (13) en Kylie (10), by sy vervreemde vrou, die sangeres Amor Vittone, te kan sien grootword . . .

Joost het oor die jare moedig baklei en elke moontlike taktiek, insluitend stamselbehandeling, gevolg om die skade te vertraag. Hy het net meer as twee maande gelede ’n suurstofmasjien begin gebruik om hom veral snags te help as hy voel hy het asemnood. Die briljante voormalige Springbokskrumskakel en oudkaptein het tot 2003 in 89 toetse vir Suid-Afrika uitgedraf. So het die nuus op Twitter gebreek: