Terwyl die My Hartjie-sangeres, Karlien van Jaarsveld, se liefdesbootjie tans op die kruin van geluk ry ná haar onlangse verlowing aan Joe Breytenbach, het haar eksman, Derick Hougaard, ’n oomblik geneem om hulde te bring aan al sy al sy voormalige spanmaats.

Karlien het die naweek bekend gemaak sy en haar kêrel van die afgelope paar maande het tydens ’n romantiese seevakansie in Mosambiek verloof geraak.

Die rugbyheld het hom Maandag tot Facebook gewend met 'n melankoliese boodskap waarin hy vertel hy verlang na sy spanmaats. "Hoekom verloor ons kontak en is die lewe so besig dat ons almal dit as 'n verskoning gebruik," skryf hy op Facebook. " 'Die lewe is so besig ek kom nie by alles uit nie.' Al is daar 'n mate van waarheid in, moet ons tog tyd maak vir wat belangrik is."

Derick brei uit oor sy voormalige spanmaats, "ouens wat letterlik hul lywe op die spel geplaas het vir my. My beskerm het. En wat vir 'n dekade my broers was."

Die sportster erken dis vir hom moeilik om sy spanmaats te bedank vir alles wat hulle vir hom gedoen het. "Geen woorde is treffend genoeg om my gevoelens te beskryf nie," sê hy. Tog is hy geensins spyt oor enigiets nie, behalwe dat hy nie meer wedstryde saam met sekere "legendes" gespeel het nie.

"Dankie dat ons dinge kon doen wat baie mense as onmoontlik geag het," voeg hy by. "Ons was suksesvol."

Talle van Derick se aanhangers het woorde van ondersteuning onderaan sy inskrywing gedeel. "Dis 'n baie mooi boodskap," het Relana Bester geskryf. "God het 'n doel met alles...hy het 'n awesome plan vir jou lewe!"

"Ons liefling, sterkte," skryf Suzie Niemandt terwyl Veronica Venter ook van haar laat hoor het: "As ek nou voor jou kon staan sou ek jou 'n drukkie gee en vir jou sê 'Alles gaan OK wees; alles gaan uitwerk soos dit moet.'".

"Vasbyt, Derick. Jou beste kom nog," skryf Leon Senekal.

Derick het sy inskrywing afgesluit met die woorde "Dankie vir alles, maar dis slegs die begin. Ek hoop ons het nog baie goeie, goue oomblikke wat wag."

“Liefde Derick”

Lees Derick se volledige inskrywing hier: