Volgens berigte versorg 'n privaat mediese span, bestaande uit 15 professionele persone, die 46-jarige kampioen dag en nag in sy herehuis langs die Meer van Genève.

Die Express, ’n Britse koerant, het egter onlangs berig dat die kampioen, wat F1 sewe keer gewen het, "stom bly, met beperkte bewussyn van sy omgewing". Hy is glo steeds nie daartoe in staat om te loop nie.

"Vooruitgang is pynlik stadig," het ’n lid van sy binnekring gesê. "Daar is geen wonderwerk in die vooruitsig nie."

Volgens die berig het die familie nou ’n algehele verbod op die media geplaas aangaande nuus oor die voormalige Mercedes- en Ferrari-renjaer. Hulle het selfs tente opgeslaan om die paparazzi te verhoed om foto’s van die F1-ster te neem.

Peter Hamlyn, ’n neurospesialis en deskundige op die gebied van kopbeserings tydens sport, het gesê: "die publiek, sowel as die familie, word deur dieselfde feit gepynig – vordering is stadig, vordering is onseker.

"As jy kyk na mense wat ernstige kopbeserings opgedoen het en wat later goed herstel het – en ek sê nie dit gebeur in alle gevalle nie – sal die hersteltyd baie jare neem."