Die hartroerende oomblik toe  'n barmhartige Samaritaan 'n warm bord kos aan 'n desperate en honger hawelose vrou oorhandig het, het onlangs soos 'n veldbrand oor die internet versprei.

A photo posted by Carmen Mendez (@hereiscarmen) on

Carmen Mendez van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië het die foto op Instagram en haar Facebook-blad gedeel. Sedertdien is dit al byna 100,000 keer gedeel en meer as 'n kwarmiljoen keer 'gelike'.

Carmen vertel sy en haar kêrel het in 'n restaurant geëet toe 'n hawelose vrou binnegekom en van tafel na tafel om oorskietkos gesmeek het.

"Niemand het ja gesê nie," vertel Carmen. "Almal het haar net geïgnoreer en hul oorskietkos eerder in die asblik weggegooi. Dit het my hart gebreek."

Net daar het Carmen besluit dat sy haar oorskietkos vir die vrou sou gee sodra sy klaar geëet het. Maar sy kon haar toe nie vind nie.

"Ek was hartseer omdat ek geweet het hoeveel verwerping sy reeds daardie aand moes ervaar terwyl sy opsoek was na 'n warm maaltyd."

Toe sy op die punt was om haar oorskietkos weg te gooi, het die hawelose vrou agter haar verskyn. Sy het haar oorskietkos aan die vrou oorhandig, maar die skuldgevoel wou nie wyk nie.

"Ek het soos 'n aaklige mens gevoel. Hoe kan ek haar net my oorblywende hoender-repies voer? Sy verdien beter," vertel Carmen.

"Daarom het ek toe 'n volledige maaltyd vir haar gekoop."

Carmen het ook vir die restaurantpersoneel gevra om asseblief nie die vrou uit te skop terwyl sy op haar kos wag nie. Ongelukkig was van die ander klante in die restaurant nie so simpatiek soos Carmen nie. Verskeie het aangehou om die hawelose vrou met weersin aan te staar.

Vir Carmen het dit nie saak gemaak nie. Die wonderlike uitdrukking van blydskap en dankbaarheid op die vrou se gesig was vir haar genoeg. Die vrou het in trane uitgebars toe haar warm bord kos by haar tafel neergesit word.

Carmen het ook nie geweet dat haar kêrel die spesiale oomblik afgeneem het nie. "Die drukkie wat sy my in die foto gee, is die mees opregte drukkie wat ek al ooit gehad het."

Sy het die inskrywing afgesluit met 'n waardevolle boodskap aan ander: "Dink twee keer voor jy 'n hawelose persoon veroordeel. Nie almal wat haweloos is, is haweloos omdat hulle lui is of aan dwelms verslaaf is nie."

Bronn: Metro.co.uk; news.com.au