Personeel van die Zuid-Afrikaans Hospitaal in Pretoria moes Woensdag bontstaan om blitsvinnig ’n troue in die hoësorgeenheid te reël.

Dit het gebeur nadat een van hul pasiënte dié oggend gesê het hy sal graag met die liefde van sy lewe wil trou voor hy die volgende dag ’n opehartoperasie moes ondergaan.

Min het die verblufte bruid, Ria van den Heever (46), daardie oggend geweet dat sy teen die aand reeds mev. Roux gaan wees, want sy is immers reeds besig om haar en Danie Roux (57) se troue vir volgende jaar in April op Langebaan in die Wes-Kaap te reël . . .

Dit alles het begin nadat Danie, van Utrecht in KwaZulu-Natal, deur sy huisdokter na ’n hartspesialis in Pretoria verwys is. Tydens sy ondersoek Dinsdag het die spesialis bevind dat sy een hartklep glad nie meer werk nie en hy net 35 persent van sy hartfunksie oorhet, vertel Ria, wat reeds 12 jaar met Danie in ’n verhouding is.

Die spesialis wou Donderdag opereer en Danie is in die Zuid-Afrikaans Hospitaal opgeneem.

“Hy vra my toe of ons nie maar voor die tyd kan trou nie,” vertel Ria. “Ek het net gelag en gesê nee, dit kos minstens drie dae om so iets te reël.”

Danie het die Woensdag ook aan verpleegsters in die hospitaal se kardiologiese hoësorgeenheid genoem dat hy dieselfde dag nog wil trou.

Die hospitaal het onder leiding van matrone Leoné Jansen van Rensburg aan die werk gespring en alles is blitsvinnig gereël. Selfs ’n fotograaf is gekry om die verlangde ID-foto’s te kom neem wat vir die wetlike dokumente benodig word, en ’n handruiker is vir Ria bestel.

Sy het sommer vir haarself die middag ’n kostuumring teen R50 gaan koop, vertel Ria laggend.

Nadat die seremonie skuins ná ses-uur die aand voltooi is, is die glasies met vrugtesap geklink en die pasgetroude paartjie kon saam met hospitaalpersoneel en vriende weglê aan peuselhappies.

Danie se operasie die volgende dag was ’n sukses en hy is nou besig om in die hospitaal aan te sterk.

Maar volgende jaar is dit hul groot troue op Langebaan, sê ’n stralende Ria.