[caption id="attachment_136713" align="alignnone" width="600"]Min Shaw saam met haar man, Willie. Min Shaw saam met haar man, Willie.[/caption]

Die geheim agter die sukses in hul huwelik was “goeie kommunikasie, vertroue en om mekaar ruimte te gee”, het Min in 2014 op haar 80ste verjaardag by Hollywood Costumes in Krugersdorp-Wes gesê, waar sy saam met Willie en 200 vriende sommer ook haar 50 jaar in die bedryf gevier het.

“En dan moet julle ook soms op die bed bollemakiesie slaan! Ek kry dit natuurlik nie meer so maklik reg nie, maar dit sorg vir vreugde,” het sy nog met Willie geskerts.

“Ek voel nie oud nie en weet nie wat ouderdom beteken nie. Solank ek my gesondheid het, is alles nog reg.”

Willie het ’n jaar gelede ’n pyn in sy een been gekry en is dokter toe. Die prostaatkanker het toe reeds deur sy lyf begin versprei en hulle het dadelik met behandeling begin.

’n Rukkie daarna het die kanker verminder en hulle het selfs gehoop hy sou ten volle herstel, maar skielik het die siekte teruggeslaan en Min moes elke dag saam met Willie bly veg om hom gesond te probeer hou. Van Kersfees verlede jaar het hy baie gesukkel en agteruit gegaan.

[caption id="attachment_136712" align="alignnone" width="600"]Min Shaw en haar man, Willie. Willie het oor die laaste paar maande baie agteruit gegaan. [/caption]

In Februarie het hy en Min nog sy verjaardag by ’n kuierplek in Krugersdorp gevier en hy kon darem ’n stukkie eet van die steak waarvoor hy so lief was. “Ek het nog nooit sulke liefde tussen twee mense beleef nie,” vertel ’n vriendin. “Die omgee tussen hulle was byna tasbaar."

Min het in Junie 1966 haar eerste plaat, Kleine Nagtegaal, uitgereik, maar die sopraan is veral bekend vir treffers soos Jy Is My Liefling en My Blonde Visserman. In 1967 het sy teenoor wyle Gé Korsten in die fliek Hoor My Lied gespeel en in 1968 was sy die blinkste ster in die land toe sy en Franz Marx saam in die rolprent Jy Is My Liefling optree.

Min sê sy bly gesond en pragtig deur reg te eet. “Ek drink en rook glad nie,” het sy haar skoonheidsgeheime verklap. “Maar die belangrikste is seker dat ek soggens wakker word met vreugde in my hart,” het sy bygevoeg.

[caption id="attachment_136719" align="alignnone" width="495"]Min vroeër vanjaar. Foto: Verskaf Min vroeër vanjaar. Foto: Facebook[/caption]

“En as dit nie daar is nie, moet jy self dinge vir jou lekker maak. Ek en my man het elke dag vrolik begin.”