[post-slider]

Die Nasionale Seereddingsinstituut van Hartbeespoortdam is Saterdag omstreeks 14:30 ontbied nadat ’n brand op ’n plesierboot uitgebreek het.

Die boot, met passasiers en bemanning aan die suidoostelike kant van die dam (naby die Pecanwood Estate), toe die brand ontstaan het.

Huisgenoot verneem by ’n betroubare bron die gerugte dat kookstelle moontlik die oorsaak was, onwaar is. “Al die kos op die boot was vooraf berei,” sê hy.

Hy sê dit sou moontlik nie vir mense nodig gewees het om van die boot af te spring nie, maar dat vrees ’n groot dryfveer is in so ’n situasie.

Een vrou, wat in ’n toilet vasgekeer was, is vermoedelik weens rookinaseming dood, terwyl drie ander glo verdrink het.

Craig Lambinon, seereddingswoordvoerder, sê luidens ooggetuies het die agterkant van die 25 m-lange boot aan die brand geraak en het hulle gesien hoe mense na die voorkant van die boot beweeg.

“Plaaslike bootklubs is in kennis gestel en dit blyk almal in die omgewing het gereageer op ’n oproep om te help,” sê hy. Tussen 25 en 30 bote het in die water gegaan om kernenergiekorporasie (Necsa) met die redding by te staan. Necsa het noodbrandweer, redding- en ambulansspanne  van die onmiddellike omgewing na die toneel gestuur.

“Daar was chaos toe privaat bote op die toneel aankom. Mense het van die boot afgespring om die vlamme te ontsnap. Na bewering het niemand reddingsbaadjies gedra nie, hoewel dit nog nie bevestig kon word nie,” sê Craig.

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur. Die oorledenes se name is nog nie bekend gemaak nie.