Die One Direction-hartebreker is so gretig om die voorsanger van The Rolling Stones se danspassies na te doen dat hy nou van dieselfde oefeninge as Mick wil doen. Harry het ook gaan gesels met Mick (69) se jare lange afrigter en fisioterapeut, Torje Eike.

’n Bron het aan The Sun gesê: “Harry wil graag net so ’n lang loopbaan soos Mick s’n hê en het besef fiksheid en gesondheid is die sleutel.

“Hy het met Torje oor Mick se intense oefenprogram gesels, wat skopboks, hardloop, gewigte en veral ballet insluit.

“Dis Harry se swak punt: Hy kan nie dans nie; nie een van die One Direction-outjies kan nie. Hul choreograaf het sommer vroeg al agtergekom hulle moenie op die verhoog dans nie.”

Hoewel Harry en die ander groeplede, Niall Horan, Zayn Malik, Louis Tomlinson en Liam Payne, gereeld in die gim is tydens die Amerikaanse deel van hul Take Me Home-toer, hoop Harry (19) ballet sal hom meer “grasieus” help maak vir die verhoog.

Die fiksheidskenner Ramzy Khachik het gesê: “Niemand werk so hard soos balletdansers nie. By hulle gaan dit alles oor grasie, houding en krag. Harry het gesien hoe soepel Mick is; hoe hy sy lyf kan strek en draai. Ballet ’n briljante kunsvorm en sal Harry se bewegings meer grasieus maak. As jy grasieus is, kan jy met eenvoudiger bewegings wegkom . . . en dis juis waaroor hul choreografie gaan.”