One Direction se Harry Styles is woedend oor Zayn Malik en Louis Tomlinson se roekelose gedrag.

Die One Direction-hartebreker se groepmaats is verfilm waar hulle grap oor dagga rook terwyl hulle ’n verdagte handgerolde sigaret rook. Die video is na bewering geneem toe hulle op 27 April onderweg was na die Estadio Nacional in Lima, Peru, en daar word berig dat Harry glad nie ingenome daarmee is nie. Die video is na bewering op Louis se foon opgeneem.

’n Bron het aan die koerant The Sun gesê: “Die hele debakel het Harry baie vies gemaak. Dit was veronderstel om ’n groot week vir die groep te wees omdat hul toer in die Verenigde Koninkryk begin.

“Pleks daarvan geniet die video nou al die aandag. Harry dink dit was uiters dom en roekeloos van hulle om dit te verfilm.”

Die beeldmateriaal is gister uitgereik. Die groep is nou in die Verenigde Koninkryk met hul Where We Are-toer en die res van die lede, Harry, Niall Horan en Liam Payne, het nie in die video verskyn nie.

Harry het hom van hul gedrag gedistansieer, en reis selfs nie meer saam met hulle nie omdat “hul streke hom nie aanstaan nie”.

Iemand in die binnekring het gesê: “Ten spyte van Harry se reputasie is hy ongelooflik professioneel en volwasse; hy hou nie van sulke streke nie.”

Intussen blyk dit Louis bekommer hom oor hul aanhangers se reaksie.

Die bron het gesê: “Hy het op sy foon na die reaksie gekyk.

“Hy verstaan almal praat daaroor en probeer bepaal hoe hy die skade tot ’n minimum kan hou.”

Die groep gaan op 1 Augustus in Noord-Amerika begin toer en daar heers nou kommer oor of hulle daarheen sal kan reis ná die bewerings van dwelmgebruik.

Die bron het ook gesê: “Alles gaan oor Amerika. Dit sou rampspoedig wees as Zayn en Louis probleme optel. Die owerhede kan van hulle ’n voorbeeld maak.”