Harry Styles en Kendall Jenner het Woensdagaand gaan uiteet. Nou gons dit dat die twee ’n paartjie is.

Die sanger, wat in Januarie met Taylor Swift uitgemaak het voor hy en Cara Delevingne romanties verbind is, het ’n intieme ete met die Keeping Up with the Kardashians-ster in die restaurant Craig’s in Wes-Hollywood geniet.

Die paartjie het die spogrestaurant vinnig deur ’n agterdeur verlaat om hul afspraak ’n geheim te hou, maar Harry (20) is later gekiek toe hy Kendall (18) in ’n swart Range Rover huis toe neem.

Volgens Unreality TV het Kendall, Kim Kardashian se jonger sussie, hegte vriende met Harry geraak nadat hulle in die X Factor-ateljee ontmoet het toe One Direction hul vertoning vir die program daar opneem.

Die paartjie het hul eteafspraak stilgehou van Twitter-aanhangers, en Harry het net getwiet: “In the ciiiiityyyyyyyyy . . . ”

Tienermeisies het kort voor lank hul woede uitgespreek oor die afspraak en is groen van jaloesie. Een het geskryf: “As Kendall Jenner en Harry Styles ’n paartjie is, gaan ek myself in die gesig skiet. Dis die valsste ding wat ek al gehoor het.”

Nog een skryf: “Harry en Kendall; ek keur dit beslis nie goed nie.”

Kendall, wat ’n beroepsmodel wil word, en haar hoërskoolkêrel Julian Brooks, het vroeër vanjaar uitgemaak. Daar is verlede maand berig dat sy en die 21-jarige rapper Young Jinsu ’n paartjie is, maar sy het dit op Twitter ontken en gesê sy ’n enkelloper.