Harry Styles oefen in die middel van die nag omdat hy so eensaam is op die One Direction-toer.

Die hartebreker is glo ongelukkig omdat hy op maande lange toere nie by sy geliefdes kan wees nie. ’n Bron het aan Heat gesê: “Aan die einde van ’n toer is hy uitgeput en verlang hy baie huis toe. Hy maak dikwels sy persoonlike afrigter, Mark, in die middel van die nag wakker. Hy is so eensaam dat hy eerder saam met hom wil oefen as om alleen te wees.”

Harry verkies om nie die orkes se vrye tyd saam met die ander groeplede, Louis Tomlinson, Zayn Malik, Niall Horan en Liam Payne, deur te bring nie. Vir geselskap op die toer laat hy sy pa, Des, en suster, Gemma, soontoe vlieg.

Volgens beweringe bly Harry by sy vriend Nick Grimshaw wanneer hy in Londen is omdat hy dit haat om alleen in sy huis te wees.

’n Bron het vertel: “Harry het wel die huis gekoop, maar as niemand daar oorslaap nie, haat hy om daar te wees. Dis vir hom neerdrukkend om die hele plek vir homself te hê. Hy is gewoond daaraan om die groeplede om hom te hê omdat hulle gewoonlik die wêreld vol saamvlieg en in hotelle tuisgaan. Wanneer hy ’n blaaskansie in Londen het, gaan hy na Nick toe.”