Toe JK Rowling in 2007 haar towerpen neergelê het, het aanhangers gedink die einde van Harry Potter.

Die afgelope dekade het die gewilde skrywer immers voet by stuk gestaan: Daar gaan nie ’n agtste boek wees waarin die avonture van die towenaar en sy twee beste vriende, Ron en Hermione, gevolg kan word nie.

Maar soos altyd het JK ’n haas uit die hoed gepluk en onder die druk geswig: Harry Potter and the Cursed Child is die afgelope naweek onder groot fanfare bekend gestel. Skielik loop Harry Potter-koors weer hoog!

Die vraag op almal se lippe is natuurlik: Is die nuwe boek net so goed soos die voriges?

Die storie speel 19 jaar na die sewende boek, Harry Potter and the Deathly Hallows, af en die geliefde towenaar is nou ’n 40-jarige oorwerkte beampte van die Ministry of Magic.

Die intrige wentel rondom Albus Potter, Harry en Ginny se jongste seun. Hy dra swaar aan die familienaam en sy pa se helde-verering na hy Voldemort verslaan het, volg hom elke dag. Vir hierdie jong towenaar is Hogwarts nie die tuiste wat dit vir sy pa was nie en hy sukkel om aan almal se verwagtinge te voldoen.

Intussen maak hy vriende met ’n ongewone mede-student: Scorpius Malfoy, seun van Harry se eertydse vyand, Draco Malfoy. Die twee raak natuurlik verstrengel met die bose wat uit ’n onverwagse oord ’n verskyning maak . . .

Getroue aanhangers moet dadelik vrede maak dat dié boek anders as die voriges is. Dis eerstens nie in prosavorm nie, maar is die teks van die toneelstuk wat onlangs in Londen begin het. Hoewel JK die storie vir die stuk geskep het, is die dramaturge Jack Thorne en John Tiffany mede-skrywers.

Jy kan egter JK se invloed op elke bladsy sien, maar dis ’n ander ervaring om net die karakters se diagloog te lees. Jy mis telkens die detail wat JK so goed in die romans vervelg het. As aanhanger hunker jy na die ryk beskrywings van die towerwêreld.

Maar jy moet die storie beoordeel in die konteks van ’n teaterstuk en in hierdie genre slaag die boek. Jy kan verstaan hoekom die Londense stuk soveel uitmuntende resensies gekry het. Dit moet absoluut verstommend wees om die towerkuns op die verhoog te sien en te beleef hoe Hogwarts, vlieënde towenaars en perdmense (centaurs) lewe kry.

Harry Potter and the Cursed Child maak baie gebruik van tydspronge wat deur middel van ’n time-turner (’n soort tower-item wat jou toelaat om deur tyd te reis) moontlik gemaak word. JK maak seker die nostalgie ruk jou hart en ou geliefde karakters en gebeurtenisse maak ’n verskyning in die boek. Dis moeilik om nie emosioneel te word as Severus Snape weer sy liefde en toegewydheid teenoor Harry se ma, Lily, verklaar nie. Die boek is beslis nie vir nuwelinge tot die reeks nie – dis gemik op deurwinterde aanhangers wat elke krummeltjie vanuit die magiese wêreld wil opslurp en die afgelope dekade telkens gewonder het wat met die geliefde karakters gebeur het. Jy kan amper nie help om kinderlik opgewonde te raak terwyl jy die boek lees nie. As getroue aanhanger kry jy antwoorde op al jou vrae, jy ontdek nuwe ingewikkelde emosies en dis lekker om te sien hoe die driestuks nou ouers is. Hulle kinders is ’n nuwe generasie towenaars en jy hoop heimlik JK sien die geleentheid raak om ’n Albus Potter-reeks te skep. Uiteindelik is die boek nie dieselfde as die voriges nie, maar dis nie noodwendig beter of slegter nie. Dis bloot ’n nuwe ervaring. Dis soos ’n ou vriend wat kom kuier – een wie jy die afgelope tien jaar baie gemis het.

- Joshua Carstens