Matt Hicks van Exeter in die suidweste van Engeland het hom as die rooikopprins voorgedoen vir I Wanna Marry Harry, ’n vals werklikheidsprogram waaraan 12 Amerikaanse vroue deelneem. Al erken hy hy het pret gehad, sê hy dit was moeilik.

“Ek het nie gedink aan hoe ek mense sou moes mislei en vir hulle jok nie, ook nie hoe ek daaroor sou voel nie. Dit was vir die pret, maar toe die proses aan die gang kom, was dit ’n bietjie uitputtend.

“Dit was moeilik omdat ek elke liewe detail oor Harry moes onthou elke keer dat ek met die meisies gepraat het.”

Voor hy aan die program deelgeneem het, het Matt ’n blitskursus gekry oor alles oor Harry (29) – insluitend sy militêre loopbaan, opvoeding, vriende, eksmeisies en stokperdjies. Maar hy sê hy kon ’n bietjie van sy eie persoonlikheid in die “rol” inblaas.

Hy het aan TVGuide.com gesê: “Ek het soveel moontlik van myself daarin gesit. Wanneer hulle my oor my reise gevra het, het ek oor my eie gepraat omdat ek nie gedink het hulle sou die verskil agterkom nie.

“Ek het nie noodwendig hart oopgemaak nie, maar teen die einde het hulle teenoor my hart oopgemaak. En dié wat aan die einde oorgebly het, is vanselfsprekend dié van wie ek die meeste gehou het.”

Al bieg hy hy voel effe skuldig, het hy bygevoeg: “Op stuk van sake het almal vir ’n werklikheidsprogram ingeskryf. Dit is alles vir die pret.”