Dit is die nuus wat enige ma vrees – dat jou skoolgaande dogter swanger is. Terwyl dit ’n moeilike situasie is om in te wees, is dit nie die einde van die wêreld nie. Met jou ondersteuning kan jou dogter steeds haar lewe lei en haar volle potensiaal bereik. Hier is raad oor hoe om jou swanger tiener te help:

Beheer jou woede  

Dis natuurlik om kwaad en teleurgesteld te voel. As ouer het jy drome en verwagtinge vir jou kind se toekoms gehad, wat nie tienerswangerskap ingesluit het nie. Jy het die volste reg om so te voel, maar hou jou emosies in toom. Jou tiener beleef ’n moeilike tyd en het jou ondersteuning nodig.

“Tieners is emosioneel, liggaamlik en sosiaal op ’n baie kritieke tydperk in hul ontwikkeling,” sê Sharon Paulus, ’n maatskaplike werker van die Ouersentrum Parent Centre. “Jou swanger tieners sal iemand nodig hê om mee te praat wat na hulle sal luiter en hulle nie veroordeel nie.”

Praat eerder met jou man, ’n familielid of vertroude vriend oor jou woede en teleurstelling.

Ondersteun hulle

Bied vir jou dogter emosionele, liggaamlike en geldelike steun. Praat met hulle oor die swarighede wat hulle dalk as swanger tiener en jong ma in die gesig sal staar. “Die tiener sal emosioneel baie ondersteuning nodig hê met hul eie behoeftes en die rol van ouer wees,” sê Sharon.

Voorgeboortesorg is belangrik vir die gesondheid van jou tiener en haar baba. Hulle moet so vroeg moontlik voorgeboorte-afsprake begin bywoon om te sorg dat hulle al die mediese ondersoeke en sorg kry wat hulle nodig het, voeg sy by.

Bied aan om elke nou en dan die baba op te pas sodat jou tiener kan uitgaan en met mense van haar ouderdom sosialiseer. “Alle ouers het af en toe ’n bietjie tyd vir hulself nodig,” sê sy.

Oorweeg al die opsies

Herinner jou dogter daaraan dat sy keuses het. Sy kan die baba hou, laat aanneem of in pleegsorg plaas, of ’n aborsie kry.

Hierdie besluite kan ’n tiener vir die res van haar lewe beïnvloed en moenie ligtelik opgeneem word nie, sê Warren Thompson, ’n maatskaplike werker van Johannesburg. Kennis is belangrik – praat met kenners, nie vriende en familielede nie.

“Ek sal ook aanbeveel dat ’n maatskaplike werker of  terapeut gesoek word en die tiener en familie saam gaan sit. ’n Terapeut kan sonder vooroordeel die verskillende menings bemiddel en al die partye sover kry om menings te oorweeg wat van hul uitkyk verskil.”

Help hulle in die skool bly

Sê vir jou kind die hê van ’n baba beteken nie sy moet haar opvoeding en drome laat vaar nie. ’n Goeie opvoeding is ook belangrik vir haar en haar baba se toekomstige welstand, sê Warren. “Dit is belangrik dat ’n kind hul skoolloopbaan voltooi, want dit verskaf die sleutel tot ‘n beter toekoms en die vervulling van hul volle potensiaal,” sê hy. “Op die lang duur bied dit ook ’n beter ekonomiese grondslag standpoint van waar jy ’n kind kan onderhou en ’n toekoms bou.”

Jou tiener kan nie na haar baba kyk wanneer sy in die skool is nie. Bied aan om die baba op te pas of help reëlings vir versorging tref. Eksamentyd kan jy aanbied om meer te help sodat jou tiener op haar leerwerk kan fokus.

Geldelike ondersteuning speel ook altyd ’n rol daarin om ’n tiener in die skool te hou, sê Warren. “Dis onmoontlik om ’n kind groot te maak en skool toe te gaan as daar nie geld vir kos of doeke is nie. Op hierdie punt sal ’n tiener eerder gaan werk soek as om hul skoolloopbaan te voltooi.”

Kry hulp

Gaan na hierdie webtuistes vir nog hulp:

Die tienerouerskapprogram by Die Ouersentrum The Parent Centre:

www.theparentcentre.org.za (of stuur ’n e-pos na  marketing@theparentcentre.org.za)

Gesinne Suid-Afrika Families South Africa:

famsaorg.mzansiitsolutions.co.za/ (of bel 011-975-7106/7)

- Petro-Anne Vlok