Of Sanjeev Chawla, 'n beroepswedder, nou uitgelewer word aan Indië om dáár verhoor te word weens aanklagte wat verband hou met wedstrydknoeiery, maak eintlik geen verskil aan hom nie.

Só sê die Suid-Afrikaanse krieketkaptein Hansie Cronjé se broer Frans.

Dít kom nadat dit bekend geword het dat Chawla, die sentrale figuur rondom die korrupsie waarby Hansie betrokke was, op 14 Junie in Londen op aandrang van die Indiese polisie in hegtenis geneem is. Chawla wag nou om te hoor of Brittanje hom aan Indië sal uitlewer sodat hy in Delhi kan verskyn. Die aanklagte hou verband met wedstrydknoeiery in wedstryde tussen Suid-Afrika en Indië in 2000.
“Hierdie is niks nuut nie. Alles wat Hansie destyds gesê het, bly steeds waar,” sê Frans. “Chawla se arrestasie het geen impak op ons nie. Dit wat gebeur het, is verby. Ek het aanbeweeg.

“Maar wat reg is, moet gebeur.” Chawla was die sentrale figuur wat gelei het tot Hansie se ondergang en lewenslange skorsing uit krieket nadat ‘n bandopname van ‘n gesprek tussen dié twee in April 2000 bekend geword het.

Hansie het tydens ‘n verhoor met die hele sak patats vorendag gekom voordat hy in 2001 die skorsing opgelê is.
Hansie, wat Sondag 47 sou gewees het, is ‘n jaar later in ‘n vliegongeluk dood.

Frans het gesê Sondag was vir hom en sy familie net ‘n gewone dag. Hulle het nie enige iets spesiaals gedoen nie omdat hy in Kaapstad, sy ouers in Bloemfontein en sy suster, Hester Parsons in Potchefstroom is.

Hulle is wel almal oorval deur boodskappe.

“Dit was net weer fantasties om te sien hoe lief mense vir Hansie was en steeds is,” sê Frans.

Chawla sal op 3 Oktober in die hof in Westminster verskyn.

Volgens die Indian Express het Britse beamptes aan die polisie in Delhi geskryf en besonderhede gevra rakende hul veiligheidsrelings en die fasiliteite van die tronk waar Chawla aangehou sal word. Die polisie in Delhi het bevestig Chawla sal aangehou word in die Tihar-tronk. Dié tronk se standaarde voldoen aan internasionale standaarde.

Ekstra bronne: Netwerk24, Indian Express.