Kokkedoor het hom geleer om meer verdraagsaam en geduldig te wees, sê Hannes Russouw, ’n sjef van Groot-Brakrivier. “Ek het daar uitgestap en half weer my ou self gevind wat ek jare terug verloor het. My inspirasie, my kalmte en liefde vir mense het teruggekom.

“Kokkedoor was ’n sleutel om ’n ou toe deur weer oop te maak, nou stap ek deur en kook die wêreld daarbuite aan die brand.”

Die spanning was elke oomblik op die stel hoog, vertel hy. “Daar was vroeg in die program al ’n naelkouery agter die skerms en plannetjies is beraam oor wie moes val en wie bevriend moes word. Snaaks genoeg was die naelkouery verniet; ons almal was verras met ’n hele paar interessante uitdagings wat gesorg het vir ’n paar penarie-oomblikke.

“Dit was ’n ervaring wat jy net een keer in jou lewe dalk kan beleef en dit was so spesiaal en lekker, geheimsinnig en uitputtend.”

Die program het vertroue by hom ingeboesem, vertel Hannes, “want met elke uitdaging moes jy leer om jou vertroue in ’n vreemdeling se hande te plaas.

“My opinie van mense het drasties verander, ja, jy mag hulle ’n bietjie vertrou en ja, daar is iets moois en goeds in elke mens se hart. Dit het my geleer om beter met ander saam te werk en optimisties te bly. Ek dink die hele ervaring was vir my ’n groot lewensles, dis die mees spesiale ondervinding wat ek al ooit beleef het.”

Die sjef Coco Reinharz het hom genader om in sy restaurant Le Sel De Pezula op Knysna die hoofsjef te word. “Ek is ongelooflik opgewonde en voel so bevoorreg om saam met hom te kan werk.” En noudat hy op die kassie is, herken mense hom op straat. “En my verloofde, Clausanne Esterhuizen, en my ouers, Janita en Chris, word deur mense oorrompel wat wil weet hoe dit met die Kokkedoor gaan.

“En in die kerk soek die tannies drukkies en dié deel ek met graagte uit. En ek kan nou al amper elke lipstiffie se smaak en geur onthou van al daai soene.

“Van my vriende lag en beskinder elke week die program, veral oor my. En daai grappe is soms pynlik, maar tog is dit pret om te hoor hulle geniet my op TV.”

Hoewel hy nog altyd ontspanne agter die kospotte was, is hy nou nog meer, vertel Hannes. “Ek kook nou met soveel meer vertroue en oorgawe en wil nog eendag my eie melktert en Beierse naartjieroom met swartbessiestrooisuiker (sherbet) en kaviaar met witsjokolade en sitrusroom wat gevries is in NH2 (vloeibare stikstof) in my eie restaurant voorsit as my kenmerkende nagereg.

“Ek het dit onlangs vir die pret ontwikkel om my verloofde te beïndruk; ek sal dit eendag vir my skoonouers maak en hopelik sal hulle dan nog meer van my hou . . .”

- Hannes is in episode vyf wat op 9 Mei uitgesaai is, uitgestem. Kokkedoor is Donderdae, 20:00, op kykNET.