Nashwill Julies (28), Vernon Witbooi (32), Geraldo Parsons (26) en Eben van Niekerk (27) het Vrydag in die landdroshof in Stellenbosch verskyn.  

Dit spruit voort uit die moord op die 21-jarige Hannah Cornelius, wat in die vroeë oggendure van Saterdag 27 Mei saam met ’n vriend, Cheslin Marsh (20) ontvoer is.

Parsons, Julius en Van Niekerk is na 'n kort verskyning in die hof weer teruggestuur Pollsmoor-gevangenis toe in afwagting van DNS-verslae en 'n uitkenningsparade.

Witbooi is voorlopig vrygelaat.

Volgens Times Live het sy suster gesê Witbooi was vantevore in die tronk vir inbraak.

"My ma en ek het geweet dat hy by huise inbreek maar hy het nooit mense beroof of vermoor nie.

"Dit was 'n skok toe ons hoor hy is saam met daardie mense gevang. Ons ken al sy vriende en hy het nooit met daardie soort mense uitgehang nie," het sy gesê.

Sy het ook aangedui dat Witbooi aan die 28-bendegroep behoort. Dit is waarskynlik hoe hy met Parsons in kontak gekom het. Skynbaar het hulle nou ook uitgevind Parsons is 'n "dik ding" (grootkop) in die 28's.

Die saak sal op 28 September met al vier beskuldigdes voortgaan.

Agtergrond

Cheslin het van hul ontvoerders ontsnap, maar Hannah se bebloede lyk is kort ná 08:30 daardie dag by Knorhoek naby Stellenbosch gevind.

Hannah se bebloede lyk is hier gevind. Foto: Joanie Bergh

Sy is herhaaldelik met 'n skerp voorwerp gesteek en om die beurt verkrag.

Cheslin was ten tyde van die voorval ’n teologiestudent in sy eerste jaar aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het sedertdien sy studies opgeskort.

Sy arm is in die aanval gebreek en hy het verskeie kopwonde opgedoen nadat hy met bakstene gegooi is. Sy oordromme is ook in die aanval beskadig. Dit het intussen bekend geraak dat hy weens die aanval moontlik blywende skade aan sy linkeroordrom opgedoen het.

Twee van die verdagtes, Witbooi en Parsons, is omstreeks 14:30 op dieselfde dag toe Hannah se lyk gevind is, ná 'n wilde jaagtog vasgetrek. Hulle het in Hannah se motor probeer wegjaag.

Tientalle Matiestudente het die verdagtes se eerste verskyning in die hof bygewoon. Daar is ook met plakkate ’n hartstogtelike pleidooi gelewer vir die verbetering van sekerheid op die kampus.

Hannah se vriende het roerend hulde aan die gewilde Matie gebring. Benewens haar studies, het sy ook as vrywilliger by die dierereddingsorganisasie TEARS gewerk. Sy is ook as 'n “uitsonderlike pianis” beskryf.

SaveSave