Woensdagoggend het 'n rondloperkat, altans die oorblyfsels van Tom die rondloperkat, 'n allemintige NZ$545 (sowat R5 500) op 'n aanlyn veilingsplatform in Nieu-Seeland behaal toe die bod toegeslaan word. Nou het die gemmerkleurige Tom tot vreugde van sy mense 'n nuwe tuiste gevind.

Maar dis juis hier waar die kinkel in die kabel is. Tom is inderwaarheid 'n dooie rondloperkat en sy oorblyfsels is benut om iets te skep wat verseker 'n "aandagtrekker sal wees vir die meisie wat alles het". Wel, wat dalk reeds alles gehad het, behalwe 'n kat genaamd Tom . . . Claire Hobbs, 'n taksidermis van Christchurch, het Tom deel van haar "Glamourpuss"-somerversameling gemaak – as 'n handsak. Praat van 'n aandagtrekker! Want sien, Claire het nie net Tom se vel gebruik om die handsak mee te maak nie; sy het Tom se kop as deel van haar ongewone modebykomstigheid behou.

Claire het ook voornemende kopers gerusgestel dat Tom "nie tydens die vervaardiging van die handsak beseer is nie", maar dat hy doodgery is. Sy bestempel haar "katsak" as iets wat jare lank sal hou solank dit goed opgepas word.

Praat van nege lewens, Tom het so pas bewys daar kan 'n 10de lewe ook in die katwêreld wees. . .

Bronne: trademe.co.nz, rt.com, itv.com