Toe ’n man, net bekend as Artyom, onlangs sy eie toertjies in die parkeerterrein van ’n inkopiesentrum in Irkutsk in die ooste van Siberië uitvoer, het Oksana rooi gesien.

Artyom wou sy vriende met sy handremdraaie beïndruk. Daardie waaghalsigheid, of eerder onnoselheid, het hom reg voor Oksana laat beland. Sy het glo op hom geskree en gevra wat hy dink hy doen.

Met reg, want die parkeerterrein is ook ’n plek waar kinders aangetref word.

Artyom het glo eers teruggekap. Oksana het egter besluit om liefs nie in ’n bakleiery betrokke te raak nie, maar eerder om die jaagduiwel ’n les te leer.

“Ek is ’n vrou en ’n bakleiery is nie vir my nie.”

Wat toe gevolg het, sal enigiemand laat glimlag.

Oksana trek Artyom toe uit sy motor en gooi hom oor haar skouer. Sy het gemaklik teruggestap na haar motor voor sy hom in die bagasiebak geboender het.

Artyom het nie teëgestribbel nie. Sy onverwagte rit het sowat 100 m verder tot ’n einde gekom toe sy hom vrylaat. Hy sou glo later ewe bedees erken hy het nie beswaar gemaak nie, want hy is bewus van Oksana se bomenslike krag.

Dit was in alle waarskynlikheid die beste besluit wat Artyom kon neem.

 

In Januarie vanjaar, met temperature van -21 °C, het Oksana twee trems met passasiers aan boord, rondgetrek. Alles saam het 36 ton geweeg.

  Sy het voorheen ook ’n Kamaz-vragmotor van 16 ton gesleep.

Om nie van die Mi-8-helikopter van 8,6 ton te praat wat sy 2 m ver gesleep het nie.

 

Bronne: dailymail.co.uk, siberiantimes.com, mbnews.com