"Ek is ook ’n Johan . . .”

Dit is die hartverskeurende woorde in die een brief ná die ander wat hier by Huisgenoot aangekom het nadat een van ons lesers, Johan Hendrickse, vir die eerste keer openhartig vertel het hoe hy 28 jaar gelede as skoolseun in die Paarl deur sy onderwyser gemolesteer is.

Sy dapper ontboeseming (Aangerand deur ’n onnie, 11 November) het nou heelparty ander mans wat met dieselfde donker geheim saamleef, laat besluit om ook hul molesteerders te konfronteer en aan te kla sodat ook hulle dalk eindelik berusting kan vind.

Vir Johan (43) blyk dit ongelukkig te laat te wees om sy molesteerder te laat vervolg, want die seksuele oortredings waaraan hy hom skuldig gemaak het, moet binne 20 jaar aangemeld word. Vir verkragting is daar wel geen tydsbeperking nie. Johan en sy vriendin, Annemi van Deventer, was verlede maand verslae toe hulle van die Paarlse landdroshof terugkeer waar hulle die slegte nuus gehoor het.

Gelukkig kon sy prokureur hom wel verseker dat hy “99 persent suksesvol kan wees” met ’n siviele eis teen sy beweerde molesteerder, en op dié manier kan hy dan geregtigheid laat geskied.

Kort nadat hy gehoor het sy onderwyser sal nie in die tronk kan beland oor wat hy hom aangedoen het nie, het hy besluit om hom self te konfronteer. Soos Johan al tevore vir Huisgenoot gesê het: “As die man na wie ek destyds moes opsien, verskoning vra dat hy my onskuld en respek misbruik het, sal ek berusting kan vind . . .”

Nou sit hy met die nommer hier voor hom wat hy by ’n privaat speurder gekry het. Dié het sy oudonderwyser in Randburg, Gauteng, opgespoor.

Hy is effens bewerig, maar vasberade om vanmiddag nog self vir die man te vertel wat sy teistering hom aangedoen het. Gelukkig is Annemi naby genoeg dat hy net sy arm na haar kan uitsteek.

’n Stem antwoord – die stem wat hy meer as twee dekades gelede laas gehoor het.

“Middag, is dit Herman Gouws*?”

“Ja, dit is.”

“Middag, Meneer, jy het vir my skoolgehou in die Paarl.”

“Jy moet nou vir my sê wie jy is. Ek het vir baie kinders skoolgehou.”

“Onthou jy nie my stem nie?”

“Nee, jong.”

“Dis Elvis, Meneer. Onthou jy nou?” Dit was Johan se bynaam op skool omdat hy so lief was om Elvis-liedjies te sing.

“Elvis, Elvis. Nee, nie eintlik nie,” kom die antwoord. Dan: “O ja. Jou naam was mos Johan.”

“Dis reg. Het Meneer enige idee waarom ek jou bel?”

“Nee, Elvis. Kan jy meer spesifiek wees, asseblief.”

“Het jy enige idee waardeur ek die afgelope 28 jaar is?”

“Nee, Elvis.”

“Onthou jy nie wat jy in jou kamer aan my gedoen het nie? Onthou jy die kaalfoto’s?”

“Nee, Elvis. Jy moet meer spesifiek wees, asseblief.”

“Onthou jy die orale seks?”

“Nee, nee, Johan. Onthou jy? Jy het . . . Wag ’n bietjie. Jy was mos in die toneelgroep by die skool. Jy het vir my gesê ek moet foto’s van jou neem. Vir ’n fliek in Hollywood met Brooke Shields.”

“Luister hierso. Jy praat mos nou nonsens. Jy sal my verskoning vra.”

“Johan, ek is so verskriklik jammer. Ek sal op my knieë gaan voor jou om verskoning te vra.”

“Weet jy wat . . . Het jy enige idee wat jy aan my gedoen het? Hoe jy my lewe opgemors het? Nee, jy weet nie . . .”

“Johan. Ek is besig om dood te gaan.”

“Weet jy wat? Ek’s al 28 jaar lank dood, dood hier binne. Jy moet op jou knieë gaan en God om hulp vra. Jy het dringend hulp nodig. Baie.”

“Johan, ek’s so verskriklik jammer.”

Hy het sy sê gesê en wil aflui, maar die man aan die ander kant smeek in ’n patetiese stem: “Wag, wag. Ek wil met jou praat.

Moenie neersit nie.”

“Sien jou in die hof,” sê hy beslis. “Jy kan dalk nie krimineel vervolg word nie, maar ek gaan jou siviel vervolg . . .”

* Nie sy regte naam nie.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot, 16 Desember 2010.