Eintlik is hy gelukkig: Voorheen moes hy self sy kamp opslaan; nou kan hy eenkant met ’n drinkdingetjie in die hand sit en kyk hoe ander dit doen, spot die sanger Mathys Roets waar hy onder ’n boom in sy rolstoel sit en die gewoel gade slaan.

Alexa Strachan, sangeres en vriendin, is ’n gesoute woonwa-meisie. Sy is in beheer en deel vrolik opdragte uit.

Dis Mathys se eerste kampeertoer nadat hy in Maart verlede jaar in ’n motorfietsongeluk verlam is. Hy is moeg van die dag se lang ryery, maar opgewonde om hier by die Drakensville-vakansieoord in KwaZulu-Natal weer buite in die natuur te wees.

“Ek is mal hieroor,” sê die 47-jarige sanger en wieg op sy rolstoel. “Dit gee jou ’n gevoel van vryheid.”

En dis alles danksy die spesiale rolstoel-toeganklike woonwa wat Hannes Delport van Nelspruit-Woonwaens vir hom gebou het. Groot en bonkig staan hy daar, 1 300 kg swaar.

Met die eerste kyk lyk dit soos ’n mobiele kantoor, maar dis binne gerieflik toegerus met ’n koningingrootte bed, pakplek, yskas en badkamer. Die kombuis vou oop na buite, want Mathys hou van kosmaak in die buitelug.

“En hy sleep maklik,” vertel die sanger. Hy weet; hy het hom immers self van sy huis in Pretoria hierheen gesleep. Sy outomatiese Isuzu-bakkie is eweneens omgebou sodat hy die petrol- en rempedale met sy regterhand kan beheer.

Terwyl Alexa ’n tenttou styf trek, verfilm kykNET se kameraspan al die aksie vir die tweede reeks van hul program Kamp Dit Uit, wat nou op die kassie uitgesaai word.

Sy en Mathys is mede-aanbieders van die reeks, en was dit nie vir Hannes-hulle se vrygewige gebaar om vir hom die woonwa te skenk nie, was daar nie ’n tweede reeks saam met Mathys nie.

Lees meer or Mathys Roets in die Huisgenoot van 28 Januarie 2010.

Het jy vir Mathys 'n boodskap? Deel dit in die kommentaarveld hieronder.