Halle Berry noem haar seun Maeco Robert Martine.

Die ster van Cloud Atlas se eersteling by haar man, Olivier Martinez, is Saterdag gebore. Sy het hom ’n Spaanse naam gegee.

Volgens die skinderwebtuiste TMZ.com beteken die naam geskenk van die Here. Die babaseuntjie se pa is van Spaanse herkoms.

Halle (46) se dogtertjie, Nahla (5), by haar vorige verloofde, Gabriel Aubry, het glo al vir haar bababoetie in die hospitaal gaan kuier. Hy is gebore in die Cedars Sinai Medical Center in Los Angeles.

’n Bron het gesê: “Olivier is die hele tyd by Halle. Nahla het haar bababoetie vroeër vandag besoek.”

Halle het voorheen gesê sy het nie geweet of sy op haar ouderdom weer swanger sou kon raak nie. “Ek en Olivier wou altyd graag ouers word. Ek wou nie moed opgee nie . . . die Here het my droom bewaarheid.

“Hierdie swangerskap is soos ’n wonderwerk vir my, ’n wonderlike geskenk . . .”