Bjorn Basson (22) stap rustig deur toe en skuif dit oop, die toonbeeld van ’n man met innerlike sekerheid. Langsaan werk sy buurvrou hier in Lindene, Kimberley, ongestoord in haar tuin, gans onbewus van die splinternuwe Springbok hier digby haar wat die winterson geniet.

Hy skop na ’n droë pol gras. “Ek het my altyd voorgestel dat ek vir die Springbokke speel, maar dit was altyd iewers in die toekoms. Nou voel ek ek kan enigiemand aanvat en ’n groot rugbyspeler wees,” sê hy.

“Die afrigter het pas my naam gesê toe die foon lui. Dit was Jongi (Nokwe) wat gebel het om my geluk te wens. Toe is dit my gesin, maar ek kon nie eens hoor wat hulle sê nie, want daar was so baie geskree op die agtergrond.”

Hy glimlag. “Gerwyn Alexander (afrigter van die Griekwasakademie) het ook gebel. Hy het baie emosioneel geklink. Hy’t gesê ek moet weet hy het altyd geweet ek kan dit doen; hy kon my nie voorheen sê nie, want dit sou na my kop toe gegaan het.”

Lees meer oor Bjorn en sien meer foto's in die Huisgenoot van 10 Junie 2010