Die monarg wat al die langste regeer, is op soek na ’n “digitalekommunikasiebeampte” wie se posbeskrywing die bestuur van haar Twitter-rekening insluit.

Volgens The Sun, het die Buckingham-paleis onlangs ’n advertensie uitgereik vir dié pos, waarvoor iemand ’n koel R500 000 per jaar betaal sal word.

Van die nuweling in die paleis sal ook verwag word om Haar Majesteit se ander sosialemediaprofiele te bestuur en staatsbesoeke, prysuitdelings en koninklike afsprake aan te teken.

Maar kan jy aansoek doen as bloot verslaaf is aan Twitter en kan Instagram en Facebook? Net as jy met die “oog op die toekoms” universiteitsopleiding ontvang het en ondervinding het van die bestuur van webtuistes, lui die advertensie.

Bowenal word van kandidate verwag om bedrewe te wees met fotografie en video-opnames.

“Miljoene mense gaan jou inhoud bekyk. Dit gaan oor die vind van nuwe maniere om koningin Elizabeth se teenwoordigheid in die openbare oog en op die wêreldtoneel op peil te hou,” lui die advertensie glo. “Dit is wat ’n werk in die koninklike huishouding buitengewoon maak.”

(Eisj, geen druk nie!)

Die koningin handhaaf ’n taamlike teenwoordigheid in die sosiale media; op Twitter het sy 27,7 miljoen volgers.

Gewoonlik twiet paleisamptenare namens haar, maar volgens The Independent, is haar eerste persoonlik geformuleerde twiet in 2014 geskep nadat sy ’n uitstalling by die Wetenskapmuseum in Londen geopen het. Die twiet is voor ’n yslike skare saamgestel nadat Ian Blatchford, direkteur van die Wetenskapmuseumgroep, die koningin na die toetsbord genooi het om haar eerste koninklike twiet die wêreld in te stuur. Dit het gelui: “Dit is plesier om die Inligtingsera-uitstalling vandag by die @ScienceMuseum te open en ek hoop mense sal hul besoek daaraan geniet. Elizabeth R.” Haar mees onlangse twiet was op 21 Junie verlede jaar, toe sy Twitter gebruik het om almal te bedank vir hul verjaardagwense.

Bronne: The Sun, Times of India, The Independent