KEN JY vir Sanet? Sanet met die pers hare. Sy is die borrelende, babbelende, passievolle deelnemer aan MasterChef South Africa. Gisteraand is sy na ’n dramatiese uitdaging uitgestem nadat sy vergeet het om haar garnale in melk te doop en haar bak springmielies op die grond geval het. Maar dis beslis nie die laaste wat jy van haar gaan hoor óf gaan sien nie . . .

SY HET alles prysgegee om deel te neem aan die tweede seisoen van M-NET se werklikheidsreeks. Omdat sy besluit het om deel te neem, het sy haar werk as finansiële bestuurder verloor, vertel Sanet. “Maar alles was 100 persent die moeite werd.”

Aanvanklik was Sanet Labuschagne (47) huiwerig. “Toe ek hoor ek is deur na die top-50, het ek vir my man gesê, ek is 47 jaar oud. Ek weet nie of ek gaan cope met die klomp kinders nie. Ek is nie daar om maatjies te maak nie.”

Maar toe sy die top-16 haal en haar man en kinders is nie daar om haar te ondersteun nie, het sy besef wat die ander deelnemers se ondersteuning en teenwoordigheid vir haar beteken. “Op die ouderdom van 47 het ek geleer, jy moet nooit jou hart toemaak nie. As jy ’n oop hart en hande het, is alles oop om te ontvang. Hulle is ’n ongelooflike klomp jong mense,” vertel sy.

Aanhangers van die program het gemengde gevoelens op Facebook getoon teenoor Sanet. Sy steur haar egter nie te veel daaraan nie. “Ek het op ’n baie jong ouderdom geleer ek moet na myself kyk. Ek moet my nommer een wees, want daar is nie altyd iemand om jou hand te vat en na jou te kyk nie.”

Buitendien weet sy nie hoe anders as om flambojant te wees nie. “Ek was nog altyd so. My familie het my gelos om over the top te wees. Almal om my, was maar met my opgeskeep,” spot sy. “Ek kan nie verstaan hoe mense nie leef met alles wat hulle het nie. Dan wonder mense hoekom is ek weird.”

Juis nou die dag het iemand vir haar gevra of sy haarself as eksentriek sou beskou. “Ek is onkant gevang. Ek is Sanet, met my drama queen-geid, my pers hare en my juwele. As jy daai naam vir my wil gee, dan moet jy. Mense kritiseer my en sonder my uit omdat ek emosioneel is. Ek is nie die norm nie en pas nie in ’n mold nie. Ek lyk nie en tree nie op soos ’n 47-jarige, Afrikaanse vrou van Boksburg behoort op te tree nie.”

Sy leer haar twee kinders, Tyron (25), ’n meganiese ingenieur, en Angelique (24), ’n gekwalifiseerde binnehuisversierder, om hulself te wees. “Sommige mense sal van jou hou en die res sal nie. Maar almal sal altyd weet waar hulle met jou staan.”

Haar dogter is baie soos sy sê, vertel Sanet. “Die helfte van haar hare is afgeskeer, sy het ’n gerekte oorlob en tatoes.”

Sanet is al amper 30 jaar getroud met haar man, Pierre, ’n vliegtuigtegnikus. “Ons het al in 1980 begin uitgaan toe ek 14 jaar oud was,” vertel sy trots.

Die toekoms lyk blink, vertel Sanet, en haar groot droom het waar geword. Sy het pas haar eie kookskool oopgemaak, Cooks in Action. “Mense kom kook en voel geïnspireerd en voel soveel ligter. Ek wil vroue inspireer om met gewone produkte ’n heerlik gereg te maak.”

Sy bedryf die skool tans uit haar kombuis, in Boksburg. “Ek wou ’n groot garage bou, maar omdat ek my werk verloor het, is dit nie nou moontlik nie. Hopelik kan MasterChef vir my deure oopmaak, want dit was ’n goeie platform om my gesig op televisie te hê sodat mense sien hoe passievol ek is.”

Vir besprekings by haar kookskool stuur e-pos na cooksinaction@gmail.com.