Lewensredders het tot die redding gekom toe ’n haai ’n 10-jarige seun in vlak water aangeval het. Die seun, wat in sowat middeldiep-water by ’n strand in die Amerikaanse deelstaat Florida geswem het, het ’n ernstige bytwond aan sy kuit opgedoen. “Hy was in middeldiep water naby sy ma en ons lewensredders het gesien hy is in die nood... Dis ernstig. Ons het hom so vinnig moontlik toegedraai,” sê Eisen Witcher, die assistenthoof van seeredding. Die seun is waarskynlik deur ’n jong bulhaai aangeval. Die museum van natuurgeskiedenis van Florida sê: “Bulhaaie bewoon taamlike vlak water. Dit beteken hulle het ’n goeie kans om met mense in aanraking te kom, want die twee spesies deel dieselfde gebiede.” Die seun is ná die aanval met ’n lugambulans na ’n hospitaal in die naburige Orlando geneem en is in ’n stabiele toestand.

Bronne: cnn.com, floridatoday.com, nationalgeographic.com