Die amateurfotograaf Steph Bellamy het Sondag die haai per ongeluk met haar slimfoon afgeneem toe sy by ’n strand naby Coffs Harbour in Nieu-Suid-Wallis foto’s neem van ma’s en kinders op hul branderplanke.

Steph (47) het Dinsdag gesê sy het eers later agtergekom sy het ’n haai afgeneem.

“Hy het twee keer uit die water verskyn; hy het my gefotobom, toe gaan hy sy gang,” het Steph gesê.

Soos die ander ma’s is Steph se kind lid van die Coffs Harbour Boardriders Club en was sy besig met ’n spesiale resies vir die ma’s toe die haai ’n paar meter van haar verskyn. Sy het dit afgeneem toe dit die tweede keer uit die water verskyn.

Steph het die foto aan die organiseerders gewys om te bewys dit is nie ’n dolfyn of tuna nie. Die branderplankryers is gevra om uit die water te kom, maar sowat ’n kwartier later het almal teruggekeer, het sy gesê.

“Niemand was bang nie. Almal was beïndruk dat ek die foto gekry het,” het Steph gesê.

Colin Simpfendorfer, ’n haaikenner van die James Cook-universiteit, het bevestig dit is ’n haai in die foto. Hulle is volop in die gebied en spring gereeld uit die water. Die haai is ongeveer 2 m lank.

Lee Winkler, wat ook saam met die haai in die water was, het gesê hy het dit vir ’n tuna aangesien.

“Dit het net ’n bietjie rondgespeel,” het Lee gesê. “Dit het twee keer opgespring en getol en het toe verdwyn.”