Dié splinternuwe apparatuur is die opvolger van die Xbox 360 en gaan op ’n reeks partytjies in 13 lande bekendgestel word. Tienduisend winkels in dié dertien lande, onder meer die VSA, Australië en Nieu-Seeland, sal om middernag 22 November oopmaak om die Xbox One te verkoop.

Intussen word die eerste eksemplaar, wat om middernag 21 November in Nieu-Seeland aan ’n aanhanger oorhandig gaan word, in ’n waterdigte houer in ’n tenk met 20 tierhaaie in Auckland se Sea Life-akwarium bewaak.

Een van die kenmerke van die Xbox One is dat gebruikers die instrumentpaneel kan verpersoonlik. Dié nuwe apparatuur sal jou gesig en stem herken en jou na ’n persoonlike instrumentpaneel lei waar jy skakels na jou gunstelingspeletjies, apps, musiek en flieks kan berg.

Die Xbox One sal in die VSA teen sowat R5 100 verkoop word. Microsoft het ongelukkig nog nie die bekendstellingsdatum van dié speelding in Suid-Afrika bekendgemaak nie.

Sony stel ook binnekort hul nuwe Playstation 4 bekend. Dit gaan sowat R4 000 kos.

Klik hier om na ’n video oor die eienskappe van die Xbox One.

Saamgestel deur Shané Barnard

Bronne: time.com, SAPA, Mirror.co.uk