Die Iron Man 3-ster, wat verlede maand ná 10 jaar saam met Chris Martin aangekondig hulle gaan skei, beplan om veranderinge aan haar webtuiste, Goop.com, te maak. Dit kom ná die onlangse vertrek van die hoof uitvoerende beampte Seb Bishop en gissings dat die maatskappy R12,6 miljoen in die rooi is.

Die 41-jarige skoonheid het by haar eerste amptelike verskyning sedert die aangekondiging – ’n geleentheid in Hong Kong om voorbrand te maak vir haar jongste kookboek, It’s All Good – gesê: “Daardie syfers is gegrond op dokumentasie van ’n paar jaar gelede, so jy moenie alles glo wat jy lees nie.”

Maar die Oscar-bekroonde aktrise, wat sê sy voer ’n “rustige en huislike” bestaan, het bevestig daar is planne om die webtuiste binne die volgende drie maande te verander en sy gaan haar maatskappy van Londen na Los Angeles verskuif, volgens die South China Morning Post.

“Ons is op die punt om hope veranderinge aan die webtuiste te maak, en daar is baie opwindende aankondigings wat kom,” het sy gesê.

Gwyneth, wat ’n dogter, Apple (9), en seun, Moses (8), by Chris het, het bygevoeg: “Ek is baie lief vir my kantoorwerk. Ek het my webtuiste, Goop, begin omdat ek baie kreatief was en nie soveel flieks gemaak het nie.”

Die nuus dat die aktrise op die groei van haar onderneming wil fokus, kom enkele dae nadat Seb, ’n Britse entrepreneur (wat in 2011 vir die aktrise begin werk het) bedank het omdat hy glo ontsteld was dat sy die webtuiste gebruik het om amptelik aan te kondig dat sy “bewustelik ontkoppel” van Chris.

Haar rocker-eks se groep, Coldplay, het onlangs ’n nuwe liedjie, Oceans, van hul eersdaagse album, Ghost Stories, op die BBC Radio 1 Live Lounge bekendgestel. Die liedjie gaan oor iemand wat ’n mislukte verhouding probeer red en dit gons behoorlik dat dit oor Chris en Gwyneth se mislukte huwelik gaan.

-BangShowBiz en Petro-Anne Vlok

Bron: eonline.com