Die handskoene is af en die stof word van vergete kristalballe gevee. Met pres. Jacob Zuma nou oënskynlik met sy rug teen die muur ná verstommende onthullings dat sy nabye vriende, die Gupta-broers, glo met kabinetsposte te koop loop, het gissings oor wie die ANC en gevolglik die land se volgende president sal word, weer opgevlam.

[caption id="attachment_120243" align="alignnone" width="600"]Pres. Zuma beantwoord vrae in die parlement. Foto: Flickr, GCIS. Pres. Zuma beantwoord vrae in die parlement. Foto: Flickr, GCIS.[/caption]

Politieke ontleders is nie seker of Zuma in die nabye toekoms herroep sal word nie, maar indien die ondenkbare wel gebeur – wie sal die leisels by Msholozi oorneem?

“Dit gaan ’n onheilige oorlog tussen Cyril Ramaphosa, Nkosazana Dlamini-Zuma en Zweli Mkhize wees,” bespiegel Rhoda Kadalie, menseregte-aktivis en die uitvoerende hoof van Impumelelo.

Lees ook: #GuptaGate: Sal die korruptes ooit aan die pen ry?

“Ek dink wel Cyril Ramaphosa verdien die pos vir die beduidende onderhandelingsrol wat hy in die oorgang van Suid-Afrika na ’n demokrasie gespeel het.” Tog was Cyril lank uit die politiek terwyl hy sakebelange nagejaag het en Rhoda wonder of hy genoeg steun sal geniet om die toppos los te slaan.

Rhoda het ook lof vir Zweli Mkhize, die ANC se tesourier-generaal: “Hy is ’n baie eerbare man en dit sal goed vir die land wees as hy president word.”

Sy meen egter nie die president se eksvrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, sal ’n gepaste keuse wees nie. “Ons het nie nou ’n vrou uit ’n ouer geslag as president nodig nie,” gesels Rhoda, maar voeg by dat geen kandidaat “erger as Zuma” kan wees nie.

Lees ook: Is Jacob Zuma se dae as president getel?

Kgalema Motlanthe, wat die interim-president was nadat die ANC Thabo Mbeki in 2008 herroep het, se naam is onlangs weer in die presidensiële hoed gegooi en prof. Daryl Glaser, Wits se hoof van politieke studies, meen dit is dalk glad nie ’n slegte ding nie.

“Wat in Kgalema se guns tel, is dat hy nie so baie politieke vyande soos Cyril – oor wie se kop die Marikana-swaard nog hang – het nie. Dit kan agterdog verwerk as Nkosazana die pos kry, omdat sommige sal glo sy sal haar eksman beskerm.

“Kgalema was nog altyd huiwerig om president te word, maar hy is minder omstrede as die ander moontlike kandidate.”

Hy glo ook Zweli kan moontlik die leisels oorneem, maar glo die aanstelling van Cyril of Kgalema sal die politieke landskap en moontlik ons ekonomiese vooruitsigte stabiliseer en op die langtermyn kan verbeter.

– Almari Wessels

Lees ook op Huisgenoot.com:

Dis waarom jy nooit aartappels in die yskas moet hou nie

‘Ek hou jou dop!’: Man vind onheilspellende 15 jaar oue boodskap in sy kaggel

Massamoordenaar Anders Breivik kla oor ‘onmenslike toestand’ van sy tronksel

Sorina jubel in HOOFLETTERS! ‘Braambossie’ se sussie is hier

George-man kry 37 keer lewenslange tronkstraf ná hy dogter se maats verkrag

Het jy ’n fotografiese geheue? Net een persent van mense kan dié raaisel oplos!