Die voorval het omstreeks 19:05 op die hoek van Jakkalsvlei- en Valhalla-rylaan in Kalksteenfontein, Kaapstad, plaasgevind.

Die hoek is ’n gevaarpunt en berug vir sy gewelddadige grypdiefaanvalle.

’n Ooggetuie het aan Daily Voice vertel sy het gesien hoe die verdagtes in ’n gangetjie staan en hul volgende slagoffer inwag.

Sy sê: “Ek het gesien hoe hulle daar staan. Hulle spring altyd daar uit om die vensters stukkend te slaan van voertuie wat by die kruising stilhou, en die insittendes beroof. Ek het vir hulle geskree om die voertuie uit te los.”

Luidens berigte het twee mans ’n voertuig genader.

“Ek het gehoor hoe die vroulike passasier skree en daarna het die bestuurder uitgeklim en twee skote afgevuur. Die een het toe na die gangetjie gehardloop, maar die ander verdagte het bly lê.”

Die motoris het van die toneel af weggejaag en is steeds soek.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê ’n saak van moord is geopen.

“Luidens verslae is die polisie na die toneel ontbied na aanleiding van ’n skietvoorval. By hul aankoms het hulle ’n 34-jarige man met ’n skietwond aangetref. Die slagoffer het aan sy wond beswyk.”

Volgens Rwexana is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Bykomende bron: Daily Voice