Die oom, wat vir langer as ’n week nie die slagoffers in die hande kon kry nie, het Maandag na hul huis in Centenary Park gegaan om ondersoek in te stel.

Met sy aankoms het die slagoffers se seun geweier om hom by die huis in te laat.

Die oom het toe gedreig om die polisie te skakel, waarna die jong man skielik op vlug geslaan het.

Die oom het die polisie ontbied en by die huis ingegaan, waar hy op die ontbinde lyke van sy suster en haar man afgekom het.

“Weens die stadium van ontbinding is dit moeilik om te sê wanneer of hoe die paartjie vermoor is. Maar die feit dat die lyke reeds ontbind het, dui aan dat hulle al meer as ’n week gelede oorlede is,” het kapt.Louise Naidoo van die Phoenix-polisiekantoor aan huisgenoot.com gesê.

Sy het gesê ’n nadoodse ondersoek sal meer lig werp op die tyd en oorsaak van dood.

Die egpaar se seun is Maandag in hegtenis geneem en sal na verwagting Donderdag (2 Maart) in die landdroshof op Verulam verskyn op aanklagte van moord.