Salinas, Kalifornië. - Sy het net 18 kg geweeg, van haar tande was vermis en los, haar skouerbene en vingers was gebreek en sy het ’n ontwrigte kakebeen gehad die dag toe sy in die motor gevind is. Sy is net 9 jaar oud.

"Die meisietjie is vir 'n geruime tyd aan die ondenkbaarste marteling onderwerp. Dit is kindermishandeling wat ons nog nooit hier (in Plumas County) ervaar het nie," het Sherriff Greg Hagwood volgens news.com.au gesê.

Lees ook: Man maak 7-jarige dood en voer hom vir die varke

Die meisie, oortrek met oop sere en luisbesmet, was uitgehonger en byna sterwend toe sy gevind is. Haar boetie, Shaun (6), en sussie Delylah Tara (3) was nie so gelukkig om betyds gevind te word nie. Hulle lyke is op 13 Desember 2015 in 'n toesluit-stoorgerief, sowat 480 km van Salinas, gevind.

Tami Joy Huntsman (39) en haar katelknapie Gonzalo Curiel (17) is intussen op aanklagte van onder meer kindermishandeling, marteling en gewelddadigheid in hegtenis geneem. Gonzalo sal as ’n volwassene verhoor word. Borgtog is op $1 miljoen elk gestel.

Hy het glo ná hulle inhegtenisname op sy Facebook-blad geskryf: "Ek is siek en afgestomp . . . oor die verlies van twee pragtige babas. Ek hoop om die tweeling Woensdag te kry. Moet my asseblief nie bel nie, ek wil nie praat nie."

Lees ook: Skokkende video wys kleuter wat rook, drink op pa se skoot

Op haar beurt beskryf Joy op haar Facebook-blad as iemand wat daaraan werk "om die beste ma te wees wat sy kan wees".

Wat hierdie voorval nog meer tragies maak, is dat Joy en haar gesin reeds ’n jaar gelede ondersoek is omdat daar ’n vermoede van kindermishandeling was.

Volgens die meisie se tannie Jayne Orr het Joy, self die ma van ’n 12-jarige tweeling, na die kinders omgesien ná hul ma vroeër in ’n tref-en-trap ongeluk gesterf het. Hul pa het toesig van die kinders opgegee en is in hierdie stadium in die tronk.

Die Huntsman-familie het in 2014 ook om al die verkeerde redes die koerante gehaal.

Tami se broer Wayne Huntsman is ook in die tronk. Hy word daarvan aangekla dat hy doelbewus ’n massiewe veldbrand in ’n nasionale woud gestig het. Dit was bekend as die King-brand wat bykans 194 km² en 12 huise vernietig het voordat dit onder beheer gebring kon word. Die King-brand het naastenby R4 miljoen per dag gekos om te bekamp.

Kyk na ’n video van die King-brand.

Bronne: news.com.au, ksbw.com, YouTube