Minstens tien kinders tel onder die talle wat gesterf het na vermoedelik een van die dodelikste chemiese aanvalle wat die afgelope ses jaar in Sirië geloods is.

Dié aanval volg ’n dag nadat Nikki Haley, die Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies, aangekondig het dat die Amerikaanse regering nie meer daarop fokus om Bashar al-Assad uit sy posisie as president van Sirië te lig nie. ’n Dokter naby Khan Sheikhoun het aan CNN gesê dat sowat 125 beseerdes, waaronder 25 lyke, vroegoggend by die hospitaal waar hy werksaam is, beland. Tot 80 persent van die beseeerdes bestaan uit vroue en kinders.

Nog ’n dokter van ’n nabygeleë dorpie het hom na die hospitaal gehaas toe hy van die aanvalle te hore gekom het. “Ek het nog nooit so iets gesien nie, dis onbeskryflik,” het hy gesê.
<

Hy was oorweldig deur emosie en het gesukkel om te vertel hoe gesinne uitgewis is. Luidens berigte is 19 lede van een gesin deur die aanval uitgewis.

Volgens die dokter het die slagoffers basies versmoor en daar was skuim wat hul monde bedek het. Baie van die slagoffers het skielik gesterf. “Ek glo hierdie aaklige herinnering sal my vir die res van my lewe bybly.”

<

Volgens Ahmad Tarakji, die hoof van die Siriese mediese vereniging, het talle van die kinders in hul slaap versmoor. “Hoeveel langer gaan die wêreld nog faal om op hierdie gruwelike misdade te reageer?” het hy gevra.
<

Mohammad Hassoun, ook ’n dokter by een van die hospitale in Idlib, het gesê dat daar heelwat meer as 200 beseerdes is.

“Die wat naby die trefpunt van die aanval was, is óf dood óf in intensiewe sorg. Hul gesinne is ten gronde want hulle verwag dat die slagoffers gaan sterf,” het hy gesê.

In hierdie stadium is die aard van die chemiese produk wat ingespan is, nog nie amptelik bekend gemaak nie. Ure nadat ’n beweerde chemiese aanval tientalle mense Dinsdag in Idlib gedood het, is ’n klein hospitaal in die noorde van Sirië tydens ’n lugaanval getref.

Die hospitaal is glo gelyk met die grond gevee en vyf noodvoertuie is beskadig. ’n Ooggetuie het die vliegtuie wat die aanval geloods het, as “oorlogsvliegtuie” beskryf.

Aktiviste lê die blaam vir die aanvalle waartydens honderde mense beseer is, voor die regering se deur. Die land gaan veral vir die afgelope ses jaar swaar gebuk onder ’n burgeroorlog. Dit is egter onseker of die vliegtuie wat hul dodelike vrag oor die Idlib-provinsie versprei het, deel van die Siriese regering of hul Russiese makkers is. Die Russiese departement van verdediging ontken dat enige van hul vliegtuie Dinsdag lugaanvalle in die Khan Sheikhoun-gebied geloods het.
<

Die Britse sekretaris van buitelandse sake, Boris Johnson, is van mening dat die beweerde chemiese aanval oor al die kenmerke van die Siriese regering beskik. Hy het sy skok uitgespreek dat Bashar al-Assad se regering herhaaldelik chemiese wapens in die verlede ingespan het en het die aanval as ’n oorlogsmisdaad bestempel. Frederica Mogherini, die beleidshoof van die Europese Unie, het die aanval as “aaklig” beskryf en gesê Assad se regering is primêr verantwoordelik vir die beskerming van sy mense en nie vir die aanval van sy mense nie.
<
Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu het ook sy skok en woede oor die aanval uitgespreek. Hy het ’n beroep gedoen op die internasionale gemeenskap om “finaal en geheel en al hierdie afskuwelike wapens van Sirië weg te neem”.
<
 

Waarskuwing: Grafiese beeldmateriaal

<

Bronne: edition.cnn.com, apnews.com, theguardian.com