Grusame besonderhede oor die tiener wat Maandag in die Tokia-woud buite Kaapstad vermoor is, het Vrydagoggend tydens hofverrigtinge aan die lig gekom.

Vier verdagtes is vroeër die week in verband met die voorval in hegtenis geneem en het vanoggend in die Wynberg-landdroshof verskyn.

Tydens die verrigtinge het dit aan die lig gekom die 16-jarige Franziska Blöhliger is nie net ernstig aangerand tydens die aanval nie; sy is ook verkrag.

Die verdagtes verskyn op aanklag van moord, diefstal en drie gevalle van verkragting. Volgens News24 lyk dit of die slagoffer vaginaal en anaal verkrag is.

Franziska het in die woud gedraf ten tyde van die aanval. Haar iPhone, oorfone en diamantring is gesteel.

Al vier verdagtes het vir regshulp aansoek gedoen. Een van die verdagtes het vir die landdros gesê hy wil nie na die Wynberg-polisieselle toe gaan nie, omdat hy meen gevangenes daar kry nie kos nie en kan ook nie bad nie.

Hy het ook aangedui dat hy bekommerd is oor geweld. Die landdros het hom verseker dat hy sal kos kry en kan bad.

Die familie het intussen die forensiese wetenskaplike David Klatzow genader om hulle by te staan in die ondersoek.

Die saak is tot 18 Maart vir borgaansoek uitgestel. Die verdagtes bly in aanhouding.

Bronne: News24.com; EWN.co.za

Ook op Huisgenoot.com:

Vir Altyd verskuif grense ná hul meeste geld nog vir Afrikaanse fliek verdien

Karen Zoid en Anneli van Rooyen saam op verhoog – ‘ek is skoon benoud,’ sê Anneli

Aantreklike misdadiger gedoop ‘Hot Felon’ is slaggereed vir modelwees

Namibiese supermodel Behati Prinsloo en haar man, Adam Levine, verwag eersteling!