Dit is onthul tydens die eerste verskyning van die man wat in verband met die verkragting van en moord op die 14-jarige meisie in hegtenis geneem is. 

Die aanklaer Chloe Morris het aan die hof gesê Britz was by ’n gemeenskapsvuur toe die beskuldigde haar wegroep en vir haar sê sy moet saam met hom kom, want haar pa soek na haar. 

Die beskuldigde, wat ’n neef in die Britz-familie is, het in ’n grys windjekker in die beskuldigdebank gestaan met sy swart hare onder kort geskeer en die blonde bokant netjies agteroor gekam. 

Morris het aan landdros Crystal McKenna gesê die beskuldigde het ’n vorige saak van seksuele aanranding in 2015 teen hom gehad, wat teruggetrek is. 

Morris sê ooggetuies het na bewering die twee meermale saam gesien nadat hy haar van die vuur af weggeroep het. Hulle het hom ook glo sien kom uit die bosse op Slangkop waar haar lyk gevind is. 

’n DNS-verslag sal bepaal wat in haar keel afgedruk is, maar dit het soos ’n riet gelyk. 

Dit is ’n skedule 6-saak en die beskuldigde moet buitengewone omstandighede toon voor borgtog aan hom toegestaan word, want die bewerings het op ’n minderjarige betrekking.

Hy verkies dat regshulp hom verteenwoordig; die saak is tot Donderdag uitgestel vir die begin van sy borgtogaansoek. 

Intussen het Britz se ma, Berenice Britz, saggies gehuil nadat sy vroeër uit die hofsaal gesluit is.

Sy het die gebou verlaat vir die kort teepouse en kon nie weer inkom nie, want die polisie het die voorhek gesluit om ’n groep van sowat 20 woedende bure uit die gebou te hou. 

Waar sy aan die groen veiligheidstralies vasgeklou het terwyl bure en familielede kwaad op die hofbeamptes geskree het om hulle in te laat, het sy verstom gelyk dat sy nie toegelaat is om weer in te gaan nie. 

“Ons wil ingaan. Dit kon ons kind gewees het,” het die bure buite geskree. 

“'Cammy se ma moet ingaan.”

Die beamptes het verduidelik hulle kan nie die hek oopmaak nie, maar later teruggekom en die hek oopgemaak om net Berenice en nog drie mense binne te laat.

Toe die hofverrigtinge hervat, is die polisieteenwoordigheid met nog twee beamptes versterk.

Britz het Saterdag in Ocean View naby Vishoek verdwyn en is Sondagoggend verkrag en vermoor. Sy is in bosse op die Slangkoppad gevind nadat ’n soekgeselskap gevorm is om haar te soek.