Charlene Strydom (36), ’n finansiële adviseur van KwaZulu-Natal, herstel nog van die 172 gruwonde wat sy opgedoen het toe haar broer se geliefde Amerikaanse veghond, Tyson, haar onverwags aanval .

Charlene Strydom glo die hond het haar gebyt om haar dood te byt.

“Hy het my in die oë gekyk terwyl ek skree. As ek my oë toemaak, sien ek hom steeds voor my. Ek kán pyn hanteer. Ek is ’n sterk vrou, maar ek het gedink hy gaan my doodmaak. Hy het presies gemik na die slagare in my nek, my polse en die binnekant van my bobene. Daai hond het geweet hy byt my om dood te byt,” vertel Charlene oor die aanval verlede maand.

Sy was op ’n sakebesoek in Pretoria en het by haar broer, Gerhard Stassen (30), en haar ma, Marinda (52), gebly toe Gerhard se  opreggeteelde tweejarige Amerikaanse veghond haar aanval en verskeur. 

Charlene moes ná die aanval op Woensdag 31 Mei twee weke in die Steve Biko Akademiese Hospitaal deurbring. “Ek moet nog ’n veloorplanting aan die binnekant van my linkerbobeen ondergaan. Van die wonde, soos die een aan my kuit, was meer as 8 cm lank en meer as 2 cm diep. Altesaam 52 van die 172 wonde was ernstig en ek moet dit steeds elke tweede dag by die wondkliniek laat skoonmaak.”

Al herstel sy vinnig en gaan dit nou beter, probeer Charlene steeds herstel van die trauma. Sy sukkel om te verstaan wat daardie dag so verskriklik skeefgeloop het dat die hond wat sy ken en wat gereeld met haar en haar kinders gespeel het as hulle daar kuier, haar aanval.

Charlene Strydom is deur ’n hond verskeur.

“Tyson ken my, hy ken my reuk en hy ken my stem. Ek kan dit glad nie verstaan nie.” Een rede waaraan Charlene kan dink, is dat Tyson haar dalk nie herken het toe sy net na 18:00 daar aankom nie omdat sy die middag haarverlengings laat insit het. Nog ’n moontlikheid is dat die ander hond op die erf, ’n veghond-teef, op hitte was.

Charlene vertel net haar stiefpa, Gert (70), was by die huis toe sy daar aankom. Sy het eers aan die agterdeur gaan klop en toe hy nie oopmaak nie, het sy na die voorkant van die huis beweeg.

Dit is toe dat Tyson haar uit die bloute bestorm. “Gewoonlik spring hy speels teen my op. Dié keer het ek geweet hy speel nie. Hy was baie aggressief.” 

Sy het uit skok vir Tyson van haar afgeruk en “seker 2 meter” ver gegooi, maar hy het haar net weer aangeval. Haar stiefpa het haar noodkrete gehoor en eerste probeer om haar te hulp te snel. “Hy is ook gebyt, maar darem nie ernstig nie.” 

Charlene het verskeie beserings opgedoen.

Dit was die buurman, Stephanus Erasmus, wat die hond van haar kon afkry. Hy het dadelik die ambulans ontbied.“My hele jeans was afgeskeur, dit was vieslik. Daar was oral net bloed,” vertel sy.

Die ambulans het haar na die Steve Biko Akademise Hospitaal geneem, waar sy in die waakeenheid haar bewussyn verloor het weens die pyn. Charlene is lid van ’n mediese fonds, maar sê sy het in dié hospitaal gebly as gevolg van die puik behandeling.

Al het sy oorleef om die storie te vertel, is sy steeds geskok dat die gesinshond wat so bekend aan haar was, haar kon aanval. “Ek is nie kwaad nie, ek is meer teleurgesteld. Wat sou hom besiel het? Ek wil hê mense moet weet so iets kan met jou eie honde gebeur. My broer voel baie sleg en hartseer.”

Hulle het die hond na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem, waar hy op aanbeveling van die organisasie van kant gemaak is.