Die lyk van 'n man in 'n duikpak, met sy keel oënskynlik afgesny, is Vrydagmiddag vasgebind aan 'n betonpaal by 'n gewilde Thaise strandoord gevind.

Volgens die Thaise nuusagentskappe is die lyk dié van 'n Westerse man.

Adjunk-polisieinspekteur Wattana Pradit het aangedui dat sy identiteit of nasionaliteit in hierdie stadium nog nie vasgestel is nie.

"Wat ons wel kan sê is dat dit 'n Westerse man is wat ongeveer 1,73 m lank is," het hy oor die gru-vonds by Samae-strand gesê.

Vuilspel word vermoed omdat die man se keel waarskynlik doelbewus afgesny is en dat sy lyk op 'n plek gelaat is waar dit gevind sou word. Hy was nog in sy duikpak geklee. Die man se rugsak is aan dieselfde betonpaal vasgebind gevind. Sy beursie was binne-in die rugsak. Daar was 1 500 Bhat (sowat R580) in die beursie. Die lyk is deur 'n toeris wat op 'n waterponie in die baai gery het, gevind.

Intussen is die inligting aan hotelle, vakansiehuise en buitelandse ambassades deurgegee om uit te vind of iemand vermis word, het superintendent Apichai Krobphetch gesê.

Bronne: dailymail.co.uk, pattayaone.news, inusanews.com