Subendran Naicker (38) en sy vrou, Desiree (35), se lyk is ontdek nadat bure bekommerd geword het omdat hulle die paartjie middel Desember laas gewaar het.

The Witness berig bure het die twee laas rondom 15 Desember gewaar, waarna aangeneem is dat hulle met vakansie gegaan het. Maar toe etlike bekommerde oproepe na die twee elke keer na stempos toe deurgaan, het ’n buurman besluit om die twee by die polisie as vermis aan te meld.

Polisiewoordvoerder kol. Jay Naicker het bevestig die paartjie is laasweek as vermis aangemeld. Dinsdag het die polisie by die paartjie se huis opgedaag waar stapels koerante en posstukke die tuin vol gelê het.

Met behulp van die brandweer is daar toegang tot die huis verkry, waarna twee erg ontbinde lyke in ’n slaapkamer gevind is.

“Daar word beweer Subendran het eers sy vrou geskiet en toe homself,” het Naicker gesê. ’n Bloedige geweer is ook op die toneel gevind.

Dit is onduidelik presies wanneer die twee dood is. Die kinderlose egpaar was albei werkloos.

’n Geregtelike nadoodse ondersoek is begin. ’n Moordsaak is ook geopen.

Bronne: The Witness; The Mercury; News24