Die gesin van Kenai in die Amerikaanse deelstaat Alaska is laas in Mei verlede jaar gesien.

’n Verbyganger wat klere opgemerk het, het Rebecca Adams (23), haar kêrel, Brandon Jividen (38), en Rebecca se twee dogters, Michelle (6) en Jaracca (3), se lyke sowat 800 m vanaf hul woonplek af gevind.

Hoewel dit nog nie bevestig kon word nie, wil dit voorkom asof een familielid die ander geskiet het, en toe hom- of haarself. Die familie se hond het ook in die slag gebly. ’n Handgeweer is op die toneel gevind.

Die motief vir die voorval is nog onduidelik, maar Rebecca se suster, Lanell Adams, het vertel die laaste keer dat sy met haar suster oor die telefoon gepraat het, het sy gespanne geklink maar wou nie uitwei oor hoekom nie.

Die familie se verdwyning het destyds ’n massiewe soektog van stapel gestuur wat die hulp van vliegtuie en helikopters ingesluit het.

’n Lid van die plaaslike polisie, lt. Dave Ross, sê dit is geensins vreemd dat niemand die familie tot nou toe raakgesien het nie omdat hul oorskot agter digte bosse gekry is. Dié gebied was wel deel van die aanvanklike soektog, het Dave bygevoeg. “Ons kan net bespiegel oor hoe naby die soekers dalk gekom het.” Bronne: Fox News; Daily Mail, Sky News