Werkers in Houston in die deelstaat Texas in Amerika was onlangs geskok toe hulle sewe mishandelde gestremde kinders vind wat deur ’n paartjie aangeneem is en sowat ’n dekade lank aangehou is.

Die kinders, wat nou tussen 13 en 16 is, is glo almal in een vuil vertrek toegesluit en het sedert hul aanneming as kleuters nie skoolgegaan, ’n dokter besoek of die huis verlaat nie.

Die man en vrou het glo al die gestremde kinders aangeneem en ’n maandelikse bedrag van die regering ontvang waarmee hulle die kinders moes versorg.

Die kinders was ondergewig, ontwater en hul lywe was bedek met vreemde bytmerke toe maatskaplike werkers hulle vind.

Paula Sinclair (54) and Allen Richardson (78) bly in aanhouding en die kinders is in ’n plek van veiligheid sedert die kinders vroeg in Desember gevind is.

Maatskaplike werkers het glo ’n wenk ontvang dat moontlike mishandeling in die paartjie se huis plaasvind, en was geskok toe hulle die gru-ontdekking doen.

"Ek kan nie aan ’n meer afskuwelik situasie dink as die een waarop ons in hierdie saak afgekom het nie," het ’n polisielid gesê. "Dié mense maak misbruik van kinders wat in ’n nare situasie is en wat nie hulself kan beskerm nie. Dit is hartverskeurend."

Die kinders is glo in ’n vertrek toegesluit en wanneer die paartjie die huis moes verlaat, is die kinders geprop in ’n klerekas wat 2,5 meter by 1,5 meter groot is. Hulle is glo soms so lank daar binne gelos dat hul hulself bevuil het en die polisie het urine en ontlasting in die kas kamer waar die kinders aangehou is gevind.

Een van die kinders, wat met Downsindroom saamleef, het ’n vuil doek aangehad.

Bronne: Houston Press, Click 2 Houston, The Mirror.