Omstreeks 23:30 Donderdagnag is paramedici na ’n ongelukstoneel by die Montrose-afrit op die N3, sowat 30 km van Harrismith ontbied.

’n Motor met vyf volwasse insittendes asook ’n eenjarige kind is aan die kant deur ’n trok by die afrit getref. Dit wil voorkom asof die motor besig was om na Montrose af te draai toe die ongeluk plaasgevind het.

Vier volwassenes het op die toneel beswyk, terwyl ’n vyfde persoon en die kind lewensbedreigende beserings opgedoen het.

Brandweermanne moes meganiese kake inspan om die beseerdes uit die verfrommelde wrak te verwyder terwyl paramedici sonder ophou gepoog het om hulle te stabiliseer.

Volgens Chris Botha, Necare 911-woordvoerder, is die kritiekbeseerde twee op die toneel behandel voordat hulle na ’n hospitaal in Harrismith geneem is. Albei het egter gesterf vanweë die beserings wat hulle tydens die ongeluk opgedoen het.