Hy het ernstige kopbeserings opgedoen en veg om sy lewe in ’n Japannese hospitaal.

Die 25-jarige Fransman is glo in ’n “kritieke maar stabiele” toestand nadat hy ’n operasie ondergaan het. Die ongeluk het Sondag op ’n sopnat Suzuka-renbaan gebeur.

Kritiek teen die wedren se organiseerders het Dinsdag toegeneem, en die voormalige wêreldkampioen Alain Prost het ook gesê foute het tot die ongeluk gelei.

Die video, wat ’n toeskouer opgeneem en op YouTube geplaas het, wys hoe die Marussia-motor in die agterkant van die geel voertuig vasry. Vonke spat terwyl die motor onder die opgeligte agterkant ingly.

Die slag, wat blyk sowat kophoogte te wees, ruk die luginlaatstelsel af wat agter die bestuurder se kop sit.

In stadige aksie wys die video hoe Jules se helm gewelddadig terugbons van die swaar voertuig, wat deur die mag van die trefslag in die lug opgelig word.

VIDEO - Nie vir sensitiewe kykers nie:

Die voertuig was besig om Adrian Sutil se Sauber-motor te verwyder, wat een rondte vroeër op dieselfde plek ’n ongeluk gehad het. Alain het aan die radiostasie Europe 1 gesê die voertuig moes nooit daar gewees het nie. “Die hyskraan se teenwoordigheid (op die baan) sonder die veiligheidsmotor is heeltemal onaanvaarbaar. Dit is ’n fout wat nie herhaal moet word nie,” het hy gesê.

'Daar is ’n fout begaan; dit is duidelik.'

“Daar is ’n fout begaan; dit is duidelik. Ek is nog nie heeltemal seker wie die fout begaan het nie. Was dit die wedrendirekteur of die beamptes op die draaie? Iemand moes die besluit geneem het om Adrian se motor te verwyder.”

Alain het gesê, nadat hy die wedren weer gekyk het, het dit duidelik geraak wat verkeerd gedoen is.

“’n Mens kan sien hoe ’n baanbeampte net agter die hyskraan die groen vlag waai, wat gewoonlik die jaers vertel dat die baan oop is.”

“Dit moes minstens 100 m verder gebeur het; dit was die beampte se fout.”

Formule Een se beheerliggaam, die Internasionale Motorfederasie, het gesê Jules het ’n “ernstige breinbesering” opgedoen.

Sondag se wedren is kort ná Jules se ongeluk gestaak; die voorloper op die kampioenskapspunteleer, Lewis Hamilton, wat tydens die ongeluk in die eerste plek was, is as wenner aangewys.

- Sapa