Jennie het vetter gekies. “Ek het geweet my lyf was nooit veronderstel om ’n grootte vier (grootte ses in Suid-Afrika) te wees nie, toe kies ek plus (-grootte),” sê die beeldskoon brunet.

En ons is bly sy het! Die 24-jarige het onlangs haar kurwes tydens ’n swemdrag-fotosessie vir die Britse klerehandelsmerk H&M gewys en so ’n wêreldwye sensasie geword.

Jennie, ’n grootte 16, het lieflik gelyk in H&M se somerswemdragreeks en is selfs afgeneem waar sy in ’n klein swart bikini in die branders baljaar.

In die eerste 24 uur nadat die foto’s uitgereik is, het Jennie se Facebook-aanhangersblad 20 000 nuwe volgelinge bygekry en Jennie word oorval met bedankingsboodskappe.

Jennie, wat haarself as die stil soort beskryf wat boeke lees, videospeletjies speel en behep is met haar kat, was verstom oor die aandag wat die fotosessie gekry het.

“Die groot klomp publisiteit was eers ’n ongemaklike verrassing,” sê Jennie. “Dit was vir my vreemd dat mense so ’n ophef maak oor hoe my lyf in ’n bikini lyk, want ek dink gewoonlik nie juis daaroor nie.”

Maar Jennie is vasbeslote om haar nuutgevonde roem te benut as ’n geleentheid om “die wêreld ’n bietjie beter” te maak deur ’n gesonde selfbeeld by vroue te bevorder.

Een van Jennie se aanhangers het vir haar gesê sy het haar geïnspireer om vir die eerste keer in jare ’n bikini aan te trek.

“Dit is presies die soort ding wat ek nog altyd wou bereik: om vir vroue te wys dis oukei om selfvertroue te hê, al is jy nie die algemene idee van ‘volmaak’ nie.”

Jennie Runk Facebook

-       Kirstin Buick

Bronne: dailymail.co.uk, bbc.co.uk