Daar het ’n seeleeu in ’n grootwithaai se keel vasgesit wat vandeesweek op ’n Australiese strand uitgespoel het en was waarskynlik die oorsaak van sy dood, het die vissery-owerheid Donderdag gesê.

Die 4 m lange haai is op video vasgelê waar dit op Coronation-strand, 430 km noord van Perth, lê en spartel, en is later dood aangetref.

Wes-Australië se visserydepartement het gesê daar was nie sigbare tekens van besering of siekte nie, maar daar het ’n seeleeu in die haai se keel vasgesit.

“Dit kan dalk verduidelik hoekom die haai sulke ongewone gedrag in vlak water naby Coronation-strand openbaar het,” het die navorser Rory McAuley in ’n verklaring gesê.

“Die haai kon moontlik die verstopping probeer verwyder het.

“So ’n groot voorwerp kon die haai se interne organe beskadig het of die vloei van water na sy kieue belemmer het,” het hy bygevoeg.

“Anders kon die haai per ongeluk vasgesit het toe hy die verstopping probeer verwyder het.”

Brad Tapper het die haai verfilm toe dit in die vlak water spartel en het die video op YouTube gelaai.

Hy was saam met sy kinders by die strand en het gesê iemand het die haai gesien toe sy hond weier om in die water te gaan.

“Toe ons dit sien, wat dit sowat 50 m van die strand. Ons het gedink dit is ’n duiker of iets,” het hy aan ’n Wes-Australiese koerant gesê.

“Dit het nogal onwerklik gevoel; jy sien dit en besef nie in die oomblik hoe uniek dit is nie, eers toe ek die video by die huis kyk.”

Nadat die haai op die strand uitgespoel het, het ’n paar bystanders dit met ’n tou weer die water ingesleep, maar dit het kort daarna weer uitgespoel.

“Ons het van nader gaan kyk en het so 3 of 4 m van die haai af gaan staan. Maar dit het weer begin spartel, toe dink ons dit is tyd om te gaan,” het Brad gesê.

- Sapa