Die storm het tussen 60 tot 75 cm sneeu in die streek laat val.

Alle moltrein-, bus- en treindienste is ná 23:00 tot verdere kennisgewing gesluit, het die metropolitaanse vervoerowerheid gesê. In New Jersey is alle bus- en spoordienste ná 22:00 gesluit. Brûe en tonnels in en rondom New York was ook toe.

Boston se vervoerstelsels sou Dinsdag opgeskort word, en die streekstreindiens tussen New York en Boston is ook gestaak. Sowat 20 cm sneeu het teen laat Maandagaand in New York geval en swaar sneeu en sterk winde is vir Dinsdag voorspel. ’n Noodtoestand is in New Jersey, Connecticut, Massachusetts en dele van die deelstaat New York afgekondig.

'“Dit kan beskou word as een van die toptwee of -drie storms in die geskiedenis van die stad.'

“Dit kan beskou word as een van die toptwee of -drie storms in die geskiedenis van die stad, en ons moet daarvolgens beplan,” het Bill de Blasio, burgemeester van New York, gesê.

Die sneeustorm kan die stad se sneeuvalrekord van 68,3 cm verbeter wat in Central Park ná ’n storm in Februarie 2006 gemeet is.

Die meeste skole in die stad was Maandag oop, maar sou na verwagting Dinsdag gesluit wees.

Winde van tot 50 km/h word verwag met rukwinde wat moontlik twee keer sterker kan wees, en moontlike skade aan kragdrade en kragonderbrekings word ook verwag.

Sowat 4 000 vlugte is Maandag afgelas en nog 4 000 sou na verwagting Dinsdag afgelas word.

- Sapa