’n Lukrake soektog by een van OR Tambo Internasionale Lughawe se pakhuise het daartoe bygedra dat dwelmsmokkelaars ’n gevoelige slag toegedien is.

Babs Naido van die Suid-Afrikaanse Inkomstedienste sê dié kokaïen-vonds van 271 kg is die grootste wat tot nou toe deur SAID-doeanebeamptes in Suid-Afrika gevind is. Die dwelm, met ’n geraamde straatwaarde van R78 miljoen, is Saterdag in ’n vraghouer gevind wat van Sao Paulo (Brasilië) na Nairobi (Kenia) op pad was. Die betrokke houer is aanvanklik deur snuffelhonde uitgewys waarna die beamptes dit deursoek het. Die dwelm was in bokse vir haarprodukte verpak.

Dit volg kort op die hakke van ’n man wat Donderdag by sy huis in Germiston, oos van Johannesburg, met dwelms ter waarde van R1,2 miljoen in hegtenis geneem is.

Wat kan kokaïen aan jou doen?

Die dwelm verskaf ’n korstondige, intensiewe gevoel van euforia wat onmiddellik na uitwerking van die dwelm tot intense depressie kan lei. Terselfdertyd word daar van vooraf na meer van die dwelm gesmag.

Gereelde gebruikers van dié dwelm is geneig om sleg te slaap en in gevalle ook op te hou eet. Van die newe-effekte kan ’n verhoogte hartklop en spierspasmas insluit.

Gebruikers kan paranoid, vyandig en angstig voorkom, selfs wanneer hulle nie onder die invloed van die dwelm is nie.

Simptome van ’n kokaïengebruiker

Die kans is groot dat iemand wat die dwelm gebruik, dit dalk nie wil adverteer nie. In sulke gevalle mag die gebruiker soms padgee en terugkeer in ’n heel ander bui – dalk oorvol selfvertroue of baie opgewonde sonder dat jy besef waarom.

Waarvoor jy op die uitkyk moet wees

1. Vergrote pupille, loopneus en/of neusbloeding (waar die dwelm gesnuif word), naaldmerke in gevalle waar dit ingespuit word en brandmerke op lippe of vingers wanneer dit gerook word.

2. Die persoon kan verskeie emosionele buie ervaar: euforia, oormatige selfvertroue, ongewone opgewondenheid, aggressie, slegte oordeel en hallusinasies is maar net ’n paar aanduidings.

3. Langdurige gebruik kan lei tot depressie, angstigheid, die dringende behoefte aan groter dosisse, uitputting en belangeloosheid.

4. Vernoude are, vergrote hart, ’n vinnige hartklop en selfs hart-aanvalle kan deel vorm van ’n gebruiker se profiel.

Kontak Narcotics Anynomous vir meer inligting en noodlyn sou jy weet van iemand wat die dwelm gebruik en hulp nodig het.