Die soektog na Carl van Rooyen duur Maandagoggend nog onverpoos voort.

’n Soektog per helikopter het ook nog niks opgelewer nie.

Soekspanne het in samewerking met die polisie die soektog nou verder uitgebrei na Lambertsbaai, Graafwater, Laaiplek en Doringbaai.

Sondag

Carl van Rooyen (54) is Saterdagoggend vir die laaste keer gesien toe hy op ’n staptog na die Bulshoek-dam naby Clanwilliam vertrek het.

Carl, die gewese hoof van Transcape Steels, het glo te voet die berge ingevaar.

Hy sou volgens aanduidings na sy staptog via die dam terugswem na die Riviera-landgoed waar sy seun, Christopher, en Christopher se vriendin, Lesley-Jane van Loggerenberg, woon.

Behalwe dat daar tot laat Sondagmiddag nog geen taal of tyding van Carl ontvang is nie, is dit ’n groot bron van kommer vir Lesley-Jane dat Carl nie sy selfoon met hom saamgeneem nie. Selfs sy motor en beursie is nog by die huis.

“Carl is ’n gereelde stapper en dis net nie in sy aard om net so te verdwyn nie. Hy's boonop 'n betreklik-goeie swemmer,” het sy aan Huisgenoot gesê.

Sy het dadelik ook die polisie in Clanwilliam oor Carl se moontlike verdwyning ingelig.

Carl se jonger seun, Alistair (23) van Houtbaai, is saam met die Wildernis soek-en-reddingsorganisasie en die polisie by die soektog na sy pa betrokke. Die familie het ook die hulp van Derek Lord, ’n vlieënier, ingeroep om vanuit die lug met Christopher se eie vliegtuig na Carl te help soek.

[caption id="attachment_159822" align="aligncenter" width="600"]Carl en sy seuns,  Chris en Alistair (Foto verskaf) Carl en sy seuns, Chris en Alistair (Foto verskaf)[/caption]

“Daar is 'n hele span mense in en om Clanwilliam wat op soek is na Carl. Verskeie van hulle is vriende van hom en sy seun en die res is vrywilligers,” het Lesley-Jane gesê.

“Christopher self keer more uit Irak terug om met die soektog behulpsaam te wees.”

Carl se ouers, Wendy van Rooyen (77) en pa Carl Snr van Rooyen(78) wag ook nou in spanning by die Riviera-landgoed vir nuus van hul seun.

Lesley-Jane het haar lof uitgespreek teenoor adjudant Grobbelaar wat tot dusver baie behulpsaam was met die soektog. Die enigste moontlike leidraad is dat Carl gister (Saterdag) op die N7 naby Clanwilliam gesien is.

Carl was by die landgoed om te help met herstelwerk aan die huis terwyl Christopher (26) as ’n vlieënier op kontrak in Irak werksaam is.

Hy het ’n blou hemp en ’n kortbroek aangehad toe hy laas gewaar is.

Kontak asseblief jou naaste polisiekantoor of die polisiekantoor op Clanwilliam by 027 482 8181 sou jy met meer inligting kan help.