IEMAND het dit gebruik om te kyk hoe haar eksman se huis nou lyk, ’n ander een om te sien hoe haar suster se blyplek in Brittanje lyk. Party mense gebruik dit om ’n kuber-draai by ou uithangplekke te gaan gooi, en ander gaan loer gou in die buiteland na plekke waar hulle dalk wil gaan vakansie hou.

Google se Street View, wat nou ook in Suid-Afrika te sien is, het menige webgebruiker gaande. Sedert 1 September verlede jaar het verskeie Google-motors en motorfietse die land begin deurkruis om gedetailleerde foto’s te neem, en 27 dorpe en stede is nou reeds gedek. As jou straat in een van dié plekke is, sal jy jou huis van amper elke hoek af kan bekyk.

Maar nie almal is ewe beïndruk met Street View nie. In Engeland het die inwoners van ’n dorpie verhoed dat Google se motors hul huise afneem, en lande soos Griekeland en China het die diens geblokkeer, omdat hulle meen dit is ’n skending van privaatheid. Google het toe gesigte en registrasienommers op motors begin uitdoof en gesê mense wat hul huis wil laat verwyder, moet hulle bloot kontak.

Maar Suid-Afrikaners lyk heel tevrede om hul foto’s te laat neem – baie poseer selfs vir Google se kameras (al kan jy nie hul gesig sien nie). Die onderneming het ook al die Wêreldbekerstadions gekiek – heel gerieflik as jy nie ’n kaartjie in die hande kon kry nie.

Ja, Google het lettertlik honderde programme wat jou lewe makliker en interessanter kan maak, en ons het besluit om ’n paar uit te lig vir die mense wat by die soekenjin-funksie vasgehaak het.

Die belangrikste eerste stap is om ’n Google-rekening oop te maak as jy nie reeds een het nie.

Gaan na Google.com en klik op Get account aan die regterkant van jou skerm sodat jy dié programme kan verken.

iGoogle

www.google.com/ig

Dis ’n Google-tuisblad wat jy kan aanpas. Laai enige van die miljoene toepassings of geriefies af – soos die weer, Gmail, jou gunsteling-nuusstasie, Joke of the Day, How Stuff Works – en jy het natuurlik ook die soekenjin waarvoor Google bekend geword het.

Kaarte

http://maps.google.com/

Vir aanwysings, gaan na die Maps-tuisblad en klik op Get Directions (net onder die logo aan die linkerkant). Tik in waar jy nou is en waar jy wil wees om verskeie roetes te kry (hulle wys ook een vir voetgangers).

Gmail

http://mail.google.com/

Met dié e-posdiens het jy meer as 7 GB-bêreplek (genoeg om meer as 10 CD’s vol te maak) dus kan jy groot lêers stuur en ontvang en baie e-posse hou. Jy kan ook deur jou pos soek om ou e-posse maklik op te spoor. Gmail het ook ’n ingeboude kitsboodskapdiens, Chat.

Gmail Chat

Nooi ander gebruikers van Gmail om ’n gesprek te voer. Kry in Gmail die lys van kontakte aan die linkerkant van die skerm. Gaan na die mens met wie jy wil praat en ’n kassie sal opspring. Klik op chat en jy is slaggereed. Dit is soortgelyk aan Gmail Talk (sien Laai dit af).

Dokumente

http://docs.google.com/

Skep dokumente, werkblaaie en voorleggings op dieselfde manier as wat jy Word, Excel en Powerpoint gebruik – net deur Google. Jy het 1 GB ruimte om dokumente aanlyn te bêre pleks van op jou persoonlike rekenaar. Deel die dokumente deur dit na ander Google-gebruikers te stuur (hulle ontvang ’n skakel via e-pos).

Kalender

www.google.com/calendar

Skep ’n aanlynkalender, deel dit met ander mense (soos jou man en kinders) en integreer hulle s’n met joune (hulle ontvang ’n skakel via e-pos). Jy sal e-posse of SMS’e ontvang om jou aan afsprake te herinner.

Alerts

www.google.com/alerts

Het jy ’n gunsteling-sokkerspan wat jy wil volg? ’n Sanger wat jy op die internet wil dophou? Kry Alerts oor hulle in jou inhokkie. E-posse wat jou op die hoogte hou, word daagliks of weekliks gestuur, of elke keer as iets oor jou span of sanger op die internet verskyn.

Woordeboek

www.google.com/dictionary

Tik ’n woord in en jy kry ’n definisie wat uit verskeie aanlynbronne opgesoek word, ’n klankgreep oor hoe om dit uit te spreek, die fonetiese spelling en maniere waarop dit gebruik word.

Boeke

http://books.google.com/

Daar is honderdduisende titels, en party is volledig aanlyn beskikbaar; laai net ’n PDF-weergawe af of lees aanlyn. Baie wys net ’n voorskou of geen teks nie. Skep ’n boekrak, skryf resensies en deel wat jy lees. Of lees ou tydskrifte soos Life, Popular Mechanics en New York Magazine aanlyn. Dis ’n wonderlike hulpbron vir leerders en studente.

Picasa

http://picasa.google.com/

Orden jou foto’s in lêers met hierdie nuttige program en redigeer en stel foute soos rooi oë reg. Met die nuutste weergawe kan jy foto’s aanlyn deel. Skep ’n album met Picasa Web Albums en nooi mense om daarna te kyk (hulle sal ’n skakel via e-pos ontvang). Speel so klaar met groot e-posse.

Google Talk

www.google.com/talk/

Hierdie kitsboodskapprogram is soortgelyk aan Gmail Chat, maar beter. Hier kan jy lêers soos dokumente en foto’s kopieer en plak (plak dit net in die klein opspringkassie).

Earth

http://earth.google.com/

Dié verbeterde weergawe van Maps het meer kenmerke. Dit kan moeilik navigeerbaar wees as jy nie ’n goeie verbinding en ’n vinnige persoonlike rekenaar het nie; kry dit net as jy belangstel om 3D-geboue te sien of ons planeet (nie net jou straat nie) wil verken.

Chrome

www.google.com/chrome

Dié internetblaaier vergelyk goed met Firefox en Internet Explorer – dit is vinnig, lyk meer gesofistikeerd en jy kan boekmerke oor verskeie werkstasies sinchroniseer (jou persoonlike rekenaars by die werk en by die huis, jou skootrekenaar en jou foon). Vreemd genoeg ondersteun dit nie Google Toolbar waarsonder baie gebruikers nie kan klaarkom nie.

Desktop

http://desktop.google.com/

As jy al ooit gewens het daar is ’n soekenjin waarmee jy goed op jou persoonlike rekenaar kan opspoor, laai dié een af! Desktop sal al die lêers op jou persoonlike rekenaar op ’n indeks sit en ’n lys maak van al die webbladsye wat jy besoek (dis wonderlik as jy nie die adres kan onthou van die webtuiste wat jy verlede week besoek het nie).