Dit kom nadat haar prokureur Sean Hefferman van LP Baartman Prokureurs Donderdag die oorspronklike testament wat sy en Joost agt jaar voor sy dood saam onderteken het, met die hulp van Rudolph Pretorius van Landa Administrators by die meester van die hooggeregshof in Pretoria ingedien het. Kragtens dié testament erf sy én hul twee kinders saam alles.

“Ek weet alles sal uitwerk. Geregtigheid sal geskied,” het Amor op navraag gesê te midde van die bittere stryd oor Joost se onafgehandelde boedel. Sean het dit bevestig. “Ons het vandag besluit om die noodsaaklike stap te doen op aanbeveling van adv. Martin van Twisk, wat saam met ons op die saak werk,” het Sean op gesê.

Sedert Joost se dood in Februarie 2017 ná ’n jare lange stryd teen motorneuronsiekte (MNS), heers daar nou ’n stryd oor Joost se boedel.


Joost het op 2 September 2015 sonder Amor se medewete ’n testament opgestel. Teen die tyd van sy dood was hulle steeds binne gemeenskap van goedere getroud hoewel hulle vervreem was van mekaar.

Die meester van die hof het vroeër dié testament, wat aandui dat Amor slegs drie televisies erf, terwyl hul kinders die enigste erfgename is, ter syde gestel aangesien dit nie deur Joost onderteken of aan die wetlike vereistes, indien iemand nie in staat is om dit te onderteken, voldoen het nie.
Joost, wat soos ’n gevangene in sy eie liggaam was, het op 6 Februarie 2017 sy verbete stryd teen MNS verloor en was byna heeltemal verlam en in ’n rolstoel gekluister toe die jongste testament, waarin Amor uitgesluit is, opgestel is. Volgens die testament moet daar deur 'n trust na die kinders se behoeftes omgesien word.

Joost en Amor het in Augustus 2009 saam ’n testament opgestel waarin die langslewende van hulle alles erf. As hulle albei sterf gaan alles na hul kinders. 
 
Dit is dié testament wat Donderdag deur Hefferman by die meester ingehandig is.

Amor het sedert Joost se dood vrae oor sy boedel. Haar jongste vraag is oor hoekom Joost se tweede testament eers 23 Mei by die meester ingedien is.

Pieter van der Westhuizen, Joost se ouer broer en eksekuteur van die boedel het Donderdag aan Huisgenoot.com gesê dat hy die hele saak aangaande die boedel in Joost se prokureur, Ferdi Hartzenberg se hande laat.

Ferdi kon nie vir kommentaar bereik word nie, maar Pieter het bevestig hy was nie bewus daarvan dat Sean die vorige testament by die hof ingedien het nie.

Amor het vroëer aan Huisgenoot gesê Joost het keer op keer aan haar belowe hul kinders, Jordan (13) en Kylie (11) sal versorg wees ná sy dood en dat hulle nie hul geliefde sokker en perdry hoef op te gee nie. Sy wens was ook dat hulle in die skole bly waar hulle ten tye van sy dood was.

“Ek dink net nie Joost sou happy gewees het met wat nou aangaan nie. Ek dink eerlikwaar nie hy sou dit so wou gehad het nie," het Amor vroëer aan Huisgenoot gesê.

"Ek dink nie hy was so wreed om dit te doen nie. Hy het gesê: ‘Ek beloof jou, Amor, jy hoef nie eens weer my testament te doen nie. Ek beloof jou, die kinders is oukei.’”